Francois Brill
Community Featured News

Die goeie samaritaan – iets wat nog in Barrydale bestaan

Jeanette Keyster
Written by Mickey Mentz

Keyster gesin se gebede word onverwags beantwoord

Dit was nag. Inteendeel, dit wou met tye vir Jeanette Keyster voorkom of daar geen einde aan die nag was nie. Terwyl sy bedags die pot by die MUD Gallery aan die kook gehou het, moes sy snags na haar ma, Johanna, omsien nadat haar linkerbeen geamputeer is.

*Advertensie

Vir Jeanette was dit vir maande ‘n geval van uitval by die een verantwoordelikheid net om weer in te val by die volgende een.

“Dit het nie goed gegaan nie, my ma was in geweldige pyn gewees na die operasie,” vertel Jeanette.


“Sy het haar onafhanklikheid binne ‘n kwessie van ‘n paar dae verloor en dit was (en is steeds) ‘n reuse aanpassing vir haar om haar dae in ‘n rolstoel deur te bring.”

Buiten die pyn wat tannie Johanna verduur het, is dit vir nou – na ‘n leeftyd van harde werk en presiesheid – amper onmoontlik om take wat meeste mense as vanselfsprekend aanvaar, te verrig.

Een van die grootste nagmerries was om die toilet te gebruik.

‘n Ridder op sy wit perd tree na vore

“Ek was by die werk besig toe ‘n klient vir my gevra het of ek okay is. Weens die min slaap en stres het ek in trane uitgebars en gesê ‘nee ek is nie’ maar ek het steeds die bestelling geneem en aan gegaan. Ek het nie juis ‘n ander keuse gehad nie.”

Die klant, wie versoek het om anoniem te bly, het toe vir Jeanette gevra of daar iets is wat hy kon doen om haar lewe makliker te maak. Jeanette het erken dat ‘n meer toeganklike toilet baie van hul probleme sou oplos.

Jeanette pas haar ma soos goud op – sy was vroeër jare daar toe haar ma twee hartaanvalle gehad het en sy sal altyd daar wees vir haar.

Jeanette Keyster en haar ma Johanna

“Teen die tyd wat ek die kos bedien het was die man op sy foon en hy het so ‘n paar voorbeelde van toestelle wat ons kan gebruik vir my gewys. Toe hy sy rekening betaal het, het hy laat weet dat hy dit bestel het en dat dit binne die volgende twee weke afgelewer sou word.”

Jeanette was ietwat in skok. Sy het die man duidelik laat verstaan dat sy nie op die stadium so ‘n apparaat kon bekostig nie. Die man het net eenvoudig gesê: “Ek het gevra hoe ek kan help en nou help ek.”

Keyster gesin se beker loop oor

Die verskil wat hierdie gebaar reeds in die lewens van die Keyster gesin gemaak het is fenomenaal.

Skielik kon die 79-jarige tannie Johanna haarself weer begin help. Jeanette kon uiteindelik ook bietjie broodnodige nagrus inkry en danksy hierdie daad deur ‘n goeie samaritaan van Barrydale sien die gesin weer die mooi in die lewe.

“Wat hierdie man gedoen het is hartroerend,” verduidelik die 79-jarige tannie Johanna.

“Uit hierdie swaarmoedigheid is daar nuwe moed vir die lewe gebore. Ons gemoed is nou ligter. Die Here het diep in daardie man se hart gesien en wondere verrig.”

Tannie Johanna is op Riversdal gebore en haar gesin het na Heidelberg verhuis toe sy 12-jaar oud was. Haar man het later werk op ‘n plaas buite Barrydale gekry en sy woon reeds 26 jaar hier.

Haar linkerbeen is op 10 Maart net onder die knie geamputeer die moontlikheid bestaan dat sy haar regterbeen ook kan verloor.

“My regtervoet gee my amper soveel probleme as die oorlede voet,” het sy verduidelik.

Tog beskryf sy dit as ‘n wonderwerk dat sy nog met ons is en sy gee aan God al die dank.

“Ek kon netsowel gesterf het.”

Jeanette het getuig dat sy die blydskap in haar ma se oë kon oplet toe sy weer sekere basiese take self kon verrig. 

Die lewe begin stelselmatig normaal raak in die Keyster huis en die vroue van Ronsdomskrik leef elke dag met die wete dat min dinge so goed soos moederlike liefde genees.

Moederlike liefde – en die liefde van ‘n man wat help waar hy kan.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Bella.

Leave a Comment