Verskeie ongerymdhede is tydens ’n besoek aan ’n beplande gekombineerde padblokkade in Swellendam op 30 Mei, gevind.
News62 het bloot ’n insig in die werking van die stelsel gesoek en het ’n Facebook Live-video uitgesaai, waarna kenners uit verskeie oorde hul koppe begin krap het.
Die volgende kommerwekkende aspekte van die operasie is later uitgelig:
Die Pay-My-Fines-bus was deel van die operasie namens die Swellendam Munisipaliteit (SM), wat ’n dienskontrak met ’n maatskappy genaamd TMT het.
Volgens Swellendam se verkeerssuperintendent, Gershwin Jansen, is die bus die eiendom van SM, maar News62 het later bevestig dat dit nie die geval is nie.

Die maatskappy, wat in Kaapstad gebaseer is, ontvang duisende rande van SM om hierdie diens te lewer.
Volgens normale prosedure moet daar ’n klerk- en kassier van die hof teenwoordig wees tydens so ’n operasie. Dit was egter nie die geval nie, en TMT het bevestig dat alle fondse deur hul eie werknemers ingevorder word. Met ander woorde, operateurs wat nie in diens van SM is nie, ontvang betalings sonder enige amptelike magtiging.
Jansen, asook die TMT-werkers, het tydens die operasie bevestig dat afslag op boetes toegestaan word.
News62 het intussen bevestig dat afslag op boetes slegs toegestaan mag word indien daar vooraf ’n vertoe aan die staatsaanklaer gerig is.
“Ons gee vir jou die opsie om net hier te betaal, en dan kan die klerk of die Sup (superintendent) besluit wat die afslag is wat jy kry,” het ’n TMT-operateur gesê.
“Die afslag is egter net geldig op spoedboetes; handgeskrewe boetes moet jy ongelukkig by die hof hanteer.”
“Ons bring die bus na die publiek toe om betalings vir hulle makliker te maak.”
Die TMT-operateur het ook bevestig dat geen hofklerk teenwoordig was nie, en dat mnr. Jansen as die verantwoordelike persoon namens die Swellendam Munisipaliteit optree.
Die vraag aan die topbestuur van die munisipaliteit is nou: Is hulle bewus van hierdie ongerymdhede, of is hulle moontlik deel daarvan?
Beland die fondse werklik in die regte kas?
En wie hou die kontant veilig tot Maandagoggend 07:30 wanneer die besighede weer oopmaak — Jansen of die operateurs?




