Featured News

Skoon oudit, vuil waarheid? Swellendam gesin veg terug ná R1.2 miljoen-bedrogklag

Crime
Written by Mickey Mentz

Ongerymdhede by padblokkades reeds jare ‘n vraag wat kommer wek

Die Witbooi-gesin van Buffeljagsrivier se lewens is byna verwoes nadat Swellendam Munisipaliteit een van die huis se broodwinners daarvan beskuldig het dat sy R1.2 miljoen uit die Raad se koffers gesteel het.

Volgens Valerie Witbooi, ’n voormalige boeteklerk wat ook as hofklerk ingesweer is, het die nagmerrie in 2019 begin toe haar werkgewers haar bekommernisse oor die boetebetalingstelsel nie ter harte wou neem nie.

“Die maatskappy wat die boetes hanteer, het nooit die geld deurgesit nie. Dit was geld vir ’n halwe boekjaar,” het Witbooi verduidelik.

Daar was volgens haar baie aspekte van transaksies wat deur die diensverskaffer hanteer is wat nie sin gemaak het nie, en die foute wat sy opgemerk het, is eenvoudig geïgnoreer.

In plaas daarvan om die onreëlmatighede te ondersoek, het haar werkgewers die werksomgewing vir haar onhoudbaar gemaak. Sy het gevoel daar is ’n slang in die gras en besluit om te bedank.

“My base het my toe oorreed om terug te keer. Ek het ingestem op voorwaarde dat ek met respek behandel sou word en dat ek hulp sou kry. Ek het gesê: ‘Dis reg, maar as ek klagtes indien, luister asseblief na my.’”

Witbooi het toe reeds aan haar man, Freek, verduidelik dat die probleem in die boete-afdeling by die maatskappy lê en dat daar “groot probleme is.”

Nie lank nadat sy teruggekeer het nie, is sy van onder meer bedrog aangekla. Swellendam Munisipaliteit het altesaam 580 sake teen haar aanhangig gemaak.

Onskuldig bevind

Hofverrigtinge het jare lank voortgeduur en in Junie 2024 is sy in die Bellville Landdroshof op al 580 klagtes onskuldig bevind.

In Februarie 2025 is haar pensioen aan haar uitbetaal maar daar was egter geen teken van die twee voertuie wat reeds in 2021, terwyl die saak nog in die hof was, gekonfiskeer was nie.

Volgens Witbooi het haar regskostes sowat R500 000 beloop, terwyl sy slegs R400 000 van haar pensioen ontvang het – ná meer as 10 jaar diens aan die munisipaliteit.

Hoewel daar inderdaad in 2019 ’n tekort van R1.2 miljoen deur Swellendam Munisipaliteit opgetel is, is dit steeds ’n raaisel hoe die munisipaliteit ten spyte van hierdie bevinding steeds skoon ouditverslae kon toon.

’n Gesin tot op hul knieë gebring

Die Witbooi-gesin se reputasie het sonder twyfel ’n reuse knak weens die gebeure gebeure gekry.

“Toe hulle ons motors hier kom vat het, was die hele erf vol polisiebeamptes. Ons was die bespotting van die dorp. Mense het gesê my man is betrokke by perlemoensmokkelary. My kinders is verneder. Ek het vir twee jaar nie eens my voete buite die huis gesit nie.”

“Ons het alles verloor in ’n saak waaroor die munisipaliteit nie eens oorweeg het om vir my jammer te sê nie.”

Freek Witbooi beaam sy vrou se weergawe:

“Ons is gemeenskapsbouers. Ek werk al jare lank met jeugsokker. Ek is ook ’n kerkleier. Verbeel jou wat dit aan ons beeld gedoen het,” sê hy.

News62 berig bevestig wat die gesin reeds weet

Dit was eers toe Valerie se dogter die News62-berig vir haar gelees het, dat sy besef het dat dieselfde probleme waarteen sy vroeër gewaarsku het, steeds plaasvind.

Lees Hier:

“Sy het dit dadelik vir my kom wys. Die klagtes en ongerymdhede in die artikel was presies dit waaroor ek destyds gewaarsku het.”

Volgens Witbooi het die privaat maatskappy toe reeds alleen by padblokkades gestaan en geld ingevorder.

Sy het verduidelik dat dit vir haar voorgekom het dat die maatskappy hulself verryk en dat die invorderings nie die noodwendig die munisipaliteit baat nie. Volgens haar was daar ‘n spesifieke skaal vir boetes, lasbriewe en dagvaardingings toegepas.

“Ek is aangekla vir presies al daardie goed wat in julle berig was, maar ek is krimineel aangekla.”

“Hulle sit geld deur die stelsel – maar dit is duidelik bepaal dat net iemand soos ek, wat deur die hof aangestel is, die geld mag ontvang.”

Volgens Witbooi was sy ook onder druk geplaas om buite die hof te skik, maar sy het geweier want sy “het niks gevat nie.”

“Die Valke het my ook besoek en gevra of ek wil skik. Ek het weer geweier. Ek kan nie my pensioen prysgee as ek weet ek het niks verkeerd gedoen nie.”

“Ek het vir hulle gesê: ‘Doen die regte ondersoek, en julle sal die feite kry.’”

Witbooi het ook versoek dat die saak nie in Swellendam verhoor word nie. Sy het toe drie jaar in die Bellville Landdroshof verskyn.

Sowat 15 werknemers van die munisipaliteit het teen haar getuig – maar sy is op elke klag onskuldig bevind.

“Hulle het nie eers vir my om verskoning gevra nie. Ek weet nie eens of ek al my pensioen gekry het nie. Ek het net vir die Here dankie gesê vir die uitspraak.”

“Soms het ek nie eers geld gehad om by die hof uit te kom nie. Maar ek het daar aangekom. En toe ek uiteindelik my pensioen ontvang het, moes ek nog R180 000 aan die prokureur betaal en R53 000 aan die advokaat wat my gehelp het.”

Lees ook:

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment