Die vroue van Barrydale het nie vir ‘n oomblik teruggestaan toe daar vir hulle gevra is om aan die opgradering van Barrydale se rugbyveld deel te neem nie.

Dit is duidelik dat die onderhoud van die veld nie geskied soos dit moet nie, maar danksy ‘n projek wat deur die Karoo Art Hotel, Stormers afrigter John Dobson, Mark Keohane van SA Rugby Magazine en John Maytham (Cape Talk) van stapel gestuur is, is R50 000 ingesamel om hier ‘n verskil te maak.
Met Conroy Williams van Barrydale Fight Club aan die stuur, het hierdie projek sowat ‘n week gelede begin en ander besighede in Barrydale het ook nie geskroom om hul deel te by te bring nie.
Potgieter Broers Grondverskuiwers in besonder is deur die organiseerders bedank vir hul bydrae.
Vroue sit skouer aan die wiel
Die CWP Vroue het reeds vroeg vanoggend (10 Desember) ingespring en die grond wat deur Southey Transport afgelewer is, begin versprei.
“Dit is vir ons ‘n grief in ons oë hoe ons veld lyk. Ons twee rugbyklubs gebruik die veld elke seisoen en al ondersteun ons CWP werkers verskillende klubs, het ons dit goed gedink om hier te help,” het Marika Bron vertel.





Die CWP werkers geniet selde die kollig, maar tydens die geleentheid het die vroue gewys dat hulle ‘n besondere liefde vir die dorp en sy mense het.
Volgens Barrydale se Mr Fix It, Stefanus Nel, moet die waarde wat die vroue in die gemeenskap toevoeg nooit onderskat word nie.
“As ‘n ondersteuner van Barrydale wil ek net dankie sê vir dit wat julle doen. CWP is mense wat nie volgens die gemeenskap gesien word nie maar ek wil sê dankie vir wie julle is en wat julle doen. Ek waardeer dit,” vertel Nel.
Lees Ook:
https://www.sarugbymag.co.za/barrydales-field-of-dreams-delights-dobbo
Het u geweet u kan nou News62 ondersteun deur ‘n bydrae te lewer?
Volg die skakel https://buymeacoffee.com/mickeymentz
[…] “It’s a grievance in our eyes how the field looks,” CWP worker Marika Bron was quoted by News62. “Even though we support different clubs, we thought it would be a good idea to help […]