Die onlangse tronkstraf wat twee voormalige verkeersbeamptes van die Ashton-verkeersafdeling ontvang het, het veroorsaak dat ou geraamtes uit die kas van die Swellendam Munisipaliteit se verkeersafdeling na vore kom.

’n Wetstoepassingsbeampte van Ashton is onlangs tot 12 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl ’n verkeershoof by dieselfde departement 14 jaar en ses maande tronkstraf opgelê is, nadat albei aan bedrog met leerlinglisensies skuldig bevind is.
Die ondersoek is reeds in April 2016 van stapel gestuur.
Kort ná die uitspraak is News62 deur ’n voormalige beampte genader. Volgens hom is hy verstom dat die Ashton-beamptes tronk toe is, terwyl daar in daardie jare soortgelyke voorvalle in Swellendam gerapporteer is, maar daar nooit iets daarvan gekom het nie.
Die Swellendam Munisipaliteit het destyds vyf beamptes vir ses maande geskors nadat klagtes van lisensiebedrog teen hulle aanhangig gemaak is. Dit wil egter voorkom asof die munisipaliteit nie kriminele klagtes geopen het nie.
Wat vir Jan Alleman besonder kommerwekkend behoort te wees, is dat sommige van die beamptes wat betrokke was, vandag top-posisies beklee.
Die saak het voortgeduur en toe raak dit skielik stil. Die betrokke lede, vier mans en een vrou, is vir ses maande geskors en al wat op hul rekords verskyn, is dat hulle verhoor is
Volgens die getuie was die korrupsie van so ’n aard dat hy uiteindelik aansoek gedoen het om eerder by ’n ander verkeerskantoor te werk.
Sy verklaring, asook dié van ander beamptes, is deur verskeie owerhede ondersoek.
“Ek het een oggend by die werk gekom en toe was daar ’n toetsbeampte, mnr X. Hy het vir my gesê dat ’n ander beampte iemand reeds uitgepaseer het. Dit was so omstreeks 06:30 en die kantore was nog nie oop op daardie tydstip nie,” het die getuie aan News62 verduidelik.
Daar is toe besluit dat die getuie en mnr X die voorval by die verkeershoof sou aanmeld, waarna ’n ondersoek van stapel gestuur is.
Volgens die getuie was die betrokke beampte veronderstel om die middag uit te baseer en die toets af te neem. Volgens ’n register was die beampte egter gedurende dié tyd by ’n padblokkade op die hoofweg.
Die toetsverslag het egter aangedui dat die uitpasering wel op daardie tydstip plaasgevind het en dat die persoon die toets geslaag het.
“Die Valke was daar, die provinsie was daar, en ook die Wes-Kaapse Inspektoraat. Hulle het verskeie bevindings gemaak.”
“Ek was saam met die Valke in ’n ander senior beampte se kantoor, waar ons aansoekvorms met geld daaraan vasgeheg gevind het. Verklarings is ook daaroor afgelê.”
“Die geld was vasgeheg aan ’n afspraakvorm wat in die kantoor gevind is.”
“Die saak het voortgeduur en toe raak dit skielik stil. Die betrokke lede, vier mans en een vrou, is vir ses maande geskors en al wat op hul rekords verskyn, is dat hulle verhoor is.”
Die getuie bevraagteken nou waarom die saak ooit krimineel vervolg is nie.
“Toe hulle terugkeer werk toe, het alles eenvoudig aangegaan asof niks gebeur het nie.”
“Ek het lankal die gevoel gehad dat daar iets nie reg is nie. Ek het oogtoetse gedoen en daar het baie mense van Kaapstad af gekom. Dit het my moedeloos gemaak, maar toe die skorsings plaasgevind het, het dit vir ’n ruk opgehou.”
Swellendam Munisipaliteit is vir kommentaar genader, maar die voorvalle het plaasgevind voordat enige van die huidige bestuur aangestel is. Die munisipale bestuurder in daardie tyd was Cecil Africa.
Die getuie het verder verduidelik hoe individue vooraf vir hul lisensies betaal het, hoewel hulle nooit self ’n toets afgelê het nie.
“Toe hulle terugkeer werk toe en alles weer normaal is, het ek besef ek kan nie so aangaan nie. Dit is toe dat ek besluit het om aansoek vir ‘n ander pos.”
Barrydale se verkeers ‘wit olifant’
Swellendam Munisipaliteit het in Februarie 2025 sowat R80 000 aan rekenaartoerusting vir ’n nuwe leerlinglisensie-toetsentrum in Barrydale bestee, maar tot dusver is die fasiliteit nog nie vir inwoners beskikbaar nie.
Dit beteken dat Barrydalers steeds die pad Swellendam toe moet aandurf om hul leerlinglisensietoetse af te lê.

News62 monitor dié situasie reeds sedert Junie. Op 4 Julie het die munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, die volgende kommentaar gelewer:
“Die Swellendam Munisipaliteit bevestig dat die nuutgestigte rybewys-toetsfasiliteit in Barrydale, wat in Februarie 2025 voltooi is, binnekort in werking sal wees. Die finale vereiste, die integrasie van die Barrydale-sentrum in die provinsiale aanlynstelsel, is tans aan die gang as deel van ’n provinsiale uitrolprogram.
“Met erkenning aan die ongerief en finansiële las wat Barrydale-inwoners tans ervaar omdat hulle na Swellendam moet reis vir rybewysdienste, bly die munisipaliteit daartoe verbind om dienslewering binne sy jurisdiksie te verbeter. Die komende opening van hierdie fasililiteit is ’n belangrike stap in die uitvoering van daardie verbintenis.
“’n Program wat die spesifieke dae uiteensit waarop rybewystoetsdienste in Barrydale beskikbaar sal wees, is in die finale stadiums en sal binnekort gepubliseer word. Hierdie skedule het ten doel om duidelikheid aan inwoners te verskaf en voorspelbare, billike toegang tot lisensiedienste te verseker.”
“Die munisipaliteit spreek sy dank uit teenoor die Barrydale-gemeenskap vir hul geduld en volgehoue betrokkenheid en sien daarna uit om hierdie diens amptelik bekend te stel.”
News62 het hierdie week weer om terugvoering gevra, maar geen verdere korrespondensie is tot op hede ontvang nie.




