VF Plus leier Dr Pieter Groenewald het op 28 Januarie bevestig dat sy party ‘n ondersoek van stapel gestuur het nadat Swellendam Speaker Juan van Schalkwyk besluit het om ‘n mosie van die ANC te steun.

Van Schalkwyk, die VF Plus verteenwoordiger op Swellendam, het die beslissende stem gehad in ‘n mosie wat gesorg het dat Francois du Rand op 27 Januarie as Burgemeester verwyder is.

“Hierdie optrede was teen ‘n besluit van die VF Plus dat die party nie saam met die ANC sal stem in ‘n wantrouemosie van hierdie aard nie,” het Dr Groenewald in ‘n persverklaring gesê.
“Die samewerking-stabiliseringspakt vir die Wes-Kaap tussen my en die leier van die DA, mnr. John Steenhuisen, is ver gevorder en daar word gewag vir die finale terugvoering van mnr. Steenhuisen.”
Volgens Dr Groenewald sal die Swellendam-aangeleentheid na die toepaslike strukture in die party verwys word vir ‘n behoorlike ondersoek en optrede.