Lifestyle Music News

Something New: Anny Whyte se tweede treffer

Written by Mickey Mentz

Swellendam se nuutste rock sensasie, Anny Whyte het vanoggend haar tweede musiekvideo bekendgestel.

Die liriek video ‘Something New’ is deur die talentvolle Martin Geldenhuys vervaardig en die musiek asook lirieke kom uit Anny se eie pen.

Sy vertel hoe die song handel oor die besluite wat mense in verhoudings neem en wat die gevolge daarvan is.

“Dit gaan maar oor mense wat in ‘n verhouding is en nie tevrede is met dit wat hulle het nie, of ongelukkig is en dan heeltyd op soek is na iets anders of iets nuuts – iets wat hulle regtig gaan gelukkig maak.”

“Ek probeer om my liedjies so te skryf dat mense hulself daarmee kan vereenselwig.”

 Anny is, soos alle musikante, uitgehonger om voor gehore op te tree, maar besef dat sy ook die geleenthede (so min as wat daar is) tydens die Covid-19 inperking regulasies op vlak 3 moet gebruik.

 “Aan die begin was dit frustrerend want ek sou laasjaar by verskillende musiekfeeste opgetree het, maar ek voel dit is ook ‘n geleentheid vir my om meer aan my musiek te werk en alles vry te stel sodat mense uiteindelik kan hoor hoe my musiek klink.”

“Ek kan myself verbeter in dié tyd en meer liedjies skryf – maar ja, ek sal wat wil gee om my songs met lewendige gehore ook te deel.”

Die eerste liedjie wat Anny met die wêreld gedeel het – It Was You – is besonder goed ontvang.

Dit het verskeie radio- en koerantonderhoude tot gevolg gehad en haar laat besef dat sy op die regte pad is.

Die terugvoering wat sy ontvang het, het egter haar stoutste verwagtinge oortref.

“My mense is baie trots op my en ek het baie positiewe terugvoering gekry. Ek het dit nie verwag nie.”

Anny werk tans aan haar volgende snit wat oor twee maande op die kuberruim vrygestel gaan word.

Ons kan letterlik nie wag nie!

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment