Deur Michelle Marais
“Al die berge wat ek geklim het” is die tema van ’n solo-uitstalling deur Montagu se oudste professionele kunstenaar, wat gedurende Oktober en November by die kunsgalery van die Montagu Country Hotel gehou sal word.

Sarel van Rensburg (95) is bekend as ’n landskapskunstenaar wat hoofsaaklik in olieverf werk. Hy is ook goed bekend in nasionale berg- en rotsklimkringe. Hy was reeds in sy 80’s toe hy die kruine van Kilimanjaro en Mount Everest se Basiskamp, asook die kruin van die bekende Bloupunt, deel van die Langeberg-bergreeks by Montagu, bereik het.
Van Rensburg durf steeds gereeld die laer, rotsagtige rante van dié sprokiesmooi dorpie aan en sy gunstelingstap is die Kranskop-roete, net ’n hanetreetjie van sy woonstel af.
Hy is steeds ’n lid van die South African Mountain Club, maar verkies deesdae om die hoogste bergpasse met sy 4×4-bakkie aan te pak – ’n voertuig wat self al heelwat kilometers op die klok het.
“Ek geniet dit baie om self te bestuur en om op ’n ‘road trip’ die kruin van ’n berg te bereik. Dis ‘n wonderlike gevoel, hoewel dit nie heeltemal vergelyk met die opwinding en vervulling daarvan om as ’n klimmer die hoogste pieke te bereik nie.”



Van Rensburg het ‘n agtergrond in meganiese ingenieurswese en geniet dit steeds om in sy werkswinkel met enjins en toerusting te peuter. Wanneer hy nie skilder nie, rig hy sy aandag op houtsneewerk en houtbeelde.
Hy is passievol oor pragtige musiek, veral koorsang. In die 1950’s was hy ’n lid van die SAUK-koor en deesdae sing hy gereeld saam met die Huis Uitvlucht inwoners van Montagu se Kieriekoor. Hy is ook ’n entoesiastiese IT-gebruiker en bestuur sy eie Facebook-rekening.
Van Rensburg vind dit moeilik om stil te sit en besoek graag vriende. Sy geheim vir ‘n gesonde, lang lewe is ’n goeie sin vir humor, ’n nuuskierige en ondersoekende geaardheid, en om vreugde in die klein oomblikke van die lewe – veral in die natuur – te vind.
Hy het nog nooit gerook nie en hou nie van die smaak van alkohol nie. “Ek drink dit net as ek moet”. Deesdae volg hy ‘n streng keto-dieet, “maar ‘n bietjie suiker doen geen kwaad nie, veral as jy dit verbrand,” lag hy, slaggereed vir die volgende uitdaging.
- Die openingsaand van Van Rensburg se solo-uitstalling vind plaas op Woensdag 7 Oktober, en sy kunswerke kan vanaf 1 Oktober tot 30 November by die kunsgalery van die Montagu Country Hotel besigtig word.





