Lede van Conroy Williams se Panic Room Boxing Club het onlangs aan ‘n
opleidingskliniek in Hermanus deelgeneem waar hulle by die Overstrand Whale Boxing Club gehelp is om hulle tegniek en vaardighede op te skerp.
Vir Conroy en die vyf klublede was dit ‘n uitstekende ondervinding. Hulle kon onder die leiding van twee top afrigters klein aanpassings aan beide hulle tegniek en hulle sielkundige benadering tot die sport maak, wat uiteindelik vir ‘n groot verbetering in hulle algehele vaardigheid sal sorg.
Afrigter Theo Modise van Worchester is ‘n voormalige SA Bantamgewig-kampioen wat op sy dag drie goue Statebondspele medaljes verower het.
Hy was ook Conroy se eerste afrigter toe hy in 2012 die kryt betree het en sy
betrokkenheid by die Cape Fight League asook die span van Western Cape Boxing, maak van hom ‘n legende in diè wêreld.
Theo en afrigter Mzi van die Overstrand Whale Boxing Club is beide betrokke by die Western Cape Boxing Association en hulle dien ook as keurders op nasionale vlak.
Vir die Barrydalers was dit ‘n voorreg om raad en opleiding van die gesiene afrigters te kon ontvang.
“Dit was vir my ‘n goeie leerproses om beide coach Mzi en coach Theo dop te hou en om so hulle metodologie as afrigters te bestudeer,” het Conroy verduidelik.
Hy vertel dat die vyf lede van sy klub ongetwyfeld sal baat by die opwarmingsoefeninge, die voetwerkopleiding, asook die veg-kombinasies wat in die bokskryt toegepas kan word.
“Dit is ‘n jammerte dat slegs vyf Barrydale boksers kon saamkom, maar ons hoop om in die toekoms nog so ‘n insiggewende kliniek by te woon.”

Vir Conroy was dit weereens uitstekend om te sien hoe coach Mzi se deure oopstaan vir die gemeenskap.
Sy gimnasium, wat in die informele nedersetting geleë is, is oop vir almal en enige person kan teen geen koste daar aansluit.
Na afloop van die opleiding het Conroy, Theo en Mzi die belangrikheid van sport en spangees in die samelewing aan die jong vegters verduidelik. Hulle het ook die kwessie van die Covid-pandemie bespreek en die seuns is daaraan herinner dat ‘n gesonde immuunstelsel vir boksers en die man op straat al hoe meer belangrik word.

Vir meer inligting oor die Overberg Whales Boxing Club kan coach Mzi by 082 621 5906 geskakel word.
Om by Conroy se Panic Room betrokke te raak, skakel hom by 073 160 1338.
Boksers in Worchester kan vir coach Theo by 083 676 4919 skakel.






