
Daar was ’n sprankel in sy oog wat min kinders het. Hy was vriendelik, liefdevol en het na sy ma geluister.
Maar Leroy Pieterse was ook ’n sewejarige seun wat dit geniet het om saam met sy maatjies in die veld te speel.
Op Saterdag 21 November het hy verdrink toe hy en sy maats by die dam in die paglande gaan speel het.
“Ek het nog die oggend vir hom kos gemaak en daarna sou hy saam met sy maatjies kerk toe gaan,” het sy ma, Bianca, aan News62 verduidelik.
Sy het gesorg dat hy netjies aangetrek is, min wetende dat dit die laaste keer sou wees wat sy hom sien.
“Hy was ’n sagte kind. Hy was altyd baie spelerig en altyd lief om skool toe te gaan. Hy was nooit ’n kind van opdraande en goed nie. Ek het nooit probleme met hom gehad nie. Hy was ’n liefdevolle kind.”
Leroy en sy maats het by die kerk weggeglip en is daarna na die dam waar die tragedie afgespeel het.
Dit is beslis nie ’n plek waar kinders behoort te speel nie, maar dit is ook nie afgesper nie.
Die dam, wat onlangs op versoek van die kleinboere vergroot is, is nie omhein nie en is net ’n klipgooi van die woonbuurt af.
Volgens een van sy maatjies het hulle Leroy se baadjie in die dam gegooi waarna hy ingespring het om dit te probeer red.
Toe hulle sien hy kom nie weer bo die water uit nie, het die seuns aan ’n grootmens gaan vertel wat gebeur het. Dié het op sy beurt Barrydale SAPS in kennis gestel.

Dit was toe reeds omstreeks 15:30 op ’n bloedwarm Saterdagmiddag.
Terwyl lede van Barrydale SAPS die toneel afgesper het, is ’n Search and Rescue Unit van Mosselbaai ontbied.
Die eenheid het om 17:30 in Barrydale aangekom.
Die eerste duiker het sowat ’n uur in die water deurgebring, maar kon nie Leroy se liggaam opspoor nie.

Intussen het honderde lede van die gemeenskap by die dam begin saamdrom. Leroy se ma, Bianca, was ook daar.
Een van Leroy se maatjies, wat weens die skok aanvanklik huis toe geneem is, is later teruggeroep na die dam om vir die polisiebeamptes aan te wys waar die tragedie afgespeel het.
Dit was ’n hartverskeurende oomblik.
’n Tweede polisieduiker is daarna ook die water ingestuur.

Omstreeks 19:20 is Leroy gevind en uit die water gehaal. Die beamptes het sy liggaam in ’n wit sak geplaas en sy kleertjies aan sy ma terugbesorg.

’n Begrafnisdiens vir Leroy word vir 5 Desember beplan.
Leroy laat sy ma, Bianca, en sy twee sussies, Arza (5) en Bersonique (10), agter.
Persone wat aan die enkelouer finansiële bystand wil bied om die begrafniskoste te help dek, kan Bianca se vriendin, Janine Boshoff, by 062 651 2105 kontak.








