SWELLENDAM – Swellendam SAPD het ’n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen ná ’n ernstige botsing tussen ’n minibustaxi en ’n ligte motorvoertuig in Railton plaasgevind het.

Die botsing het op 28 Maart 2026 omstreeks middernag op die hoek van Meistraat en Siegelaarstraat plaasgevind.
Volgens Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, woordvoerder van die Garden Route District Communication and Liaison Services, het twee insittendes van die minibustaxi, asook die bestuurder van die ander voertuig, ernstige beserings opgedoen.
“Hulle is na ’n mediese fasiliteit vervoer vir verdere behandeling,” het Pojie bevestig.
Hy het verder gesê dat beide bestuurders aan bloed- en alkoholtoetse onderwerp is, maar dat die uitslae nog nie beskikbaar is nie.
“’n Saak van roekelose en nalatige bestuur is geregistreer en die ondersoek duur voort,” het hy gesê.
Volgens Pojie sal die saakdossier, sodra die ondersoek afgehandel is, aan die senior staatsaanklaer oorhandig word om te bepaal of vervolging ingestel sal word.
Die polisie het ’n beroep op padgebruikers gedoen om verantwoordelik op te tree, veral gedurende laatnag-ure wanneer sigbaarheid en reaksietyd beperk kan wees.




