’n Kreatiewe samewerking tussen plaaslike VLV-lede en ’n internasionaal bekroonde kunstenaar het ’n unieke kunswerk opgelewer wat nou in Montagu uitgestal word, nie net as visuele blikvanger nie, maar as ’n daadwerklike poging om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

Die kunswerk word uitgestal by die Kupenda Africa Art Gallery en belangstellendes word genooi om aanbiedinge en bod te maak.
Die projek is onlangs deur lede van die Montagu VLV aangepak, met begeleiding van die bekende plaaslike kunstenaar Jan Raats. Die kunswerk bestaan uit plastiek “vlinders” wat met die hand geverf en saamgestel is in ’n opvallende geometriese patroon.
Raats, wat internasionaal erkenning geniet, is onder meer die wenner van die Case Del Arte-kunsprys in Majorca, Spanje, in 2023 en was ook ’n finalis by die Swiss Art Expo in Zürich in 2022 en 2025. Hy is veral bekend vir sy kunswerke wat uit herwinde plastiekwaterbottels vervaardig word.
Volgens betrokkenes is die VLV-lede hartlik by die galery ontvang voordat hulle die vlinders in helder kleure geverf het. Met Raats se leiding is die finale kunswerk daarna saamgestel.
Die opbrengs van die verkoop sal aangewend word ten bate van Huis Uitvlucht se Granny Project, wat ’n belangrike rol speel in die verskaffing van basiese benodigdhede soos toiletware aan behoeftige inwoners.
Belangstellendes kan Dalena kontak by 084 501 3791 vir meer inligting of om ’n bod te plaas.








