Community Featured

Jagermeisters beklink rolbal finaal met klas

Written by Mickey Mentz

Barrydale se Jagermeisters rolbalspan het Barrydale Recreation Club se Social Business League op 1 Mei beklink.

Voormalige Springbok afrigter Peter de Villiers het op sy dag verduidelik dat wen en verloor presies dieselfde ding is, behalwe dat dit aansienlik beter voel om as oorwinnaars uit die stryd te tree.

Daarom voel Barrydale se Jagermeisters rolbal span so ‘n klein bietjie beter as hul opponente waarmee hulle in die finaal van die Barrydale Recreation Club se Socail Business League op 1 Mei afgereken het.

“Dit was ‘n taai stryd en OK1 se spelers het beslis vir die een opgedaag,” vertel Jagermeisters kaptein Boetie Davids.

Boetie het erken dat hul semifinaal teen die Sweet 60s net so moeilik was maar dat sy span se geheim tot sukses op die dag aan hul fokus toegeskryf kan word.


“Ons is baie trots op hierdie trofee wat ons gewen het. Dit beteken vir ons baie en ons sien beslis daarna uit om ons kroon te verdedig.”

Gert Mills het die Barrydale Recreation Club Social Business League wenners trofee aan die Jagermeisters Rolbalspan bestaande uit Boetie Davids, Freek Matjan en Henry Marais oorhandig. Foto: Chris Naude


Hierdie toernooi wat deur Barrydale Recreation Club ‘n jaarlikse instelling gemaak is dien nie net as ‘n uitstekende netwerk geleentheid vir besighede nie (Boetie se span sny jou grasperk dat dit soos ‘n gholfbaan se setperk lyk) dit is ook ‘n uitstekende platform om beginners aan die sport bloot te stel.

“Daar is ‘n persepsie dat rolbal ‘n oumens sport is, maar soos jy hier op Barrydale kan sien is dit besig om baie gewild onder die jeug te word.

“My raad aan enige iemand wat daarin belangstel om hierdie sport te beoefen is eenvoudig ‘kom op die greens, van daar af gebeur alles vanself’.”

Boetie meen dat hy maar drie jaar gelede balle begin rol het en dat geen speler in sy span meer as twee jaar ervaring het nie.

Die aand is met ‘n heelike spitbraai – met dank aan Coenraad Fourie – afgesluit en daar is tot op die nippertjie van die lockdown maatreëls gekuier.

Buiten die spel self, het die weeklikse rolbal byeenkomste ook vir boobaas kuiers gesorg en dit is alles te dankie aan Gert Mills en sy span.

Tussen Gert, Alan, Vanessa, Sarah, Chris en Charnelle was daar nooit ‘n droë keel of ‘n honger maag nie en deelnemers het elke week uitsien na ‘n opwindende aand onder die mooiste sterre wat die klein karoo bied.

Diegene wat daarin belangstel om aan die winter liga deel te neem kan vir Alan by 061 047 3720 skakel.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment