Dit was ‘n pragtige somersdag en die manne het ingestem om op een van die mooiste gholfbane in die provinsie te speel.
Vir ‘n kort oomblik in tyd was die natuurskoon aansienlik meer belangrik as die stryd wat later in die Raadsaal sou woed.

Daar is onlangs ‘n paar verbeteringe by die baan aangebring wat dit so bietjie makliker maak en, oudergewoonte, was dit in ‘n knap kondisie.
Nog ‘n kenmerk van die gholklub is die vriendelikheid waarmee spelers – ja selfs die wat nie elke dag die sport beoefen nie – ontvang word.
Daar is ook stokke te huur en dit gaan jou nie ‘n arm en ‘n been kos om die setperkfooi te betaal nie.
Sommige mense is van mening dat die klub een van Swellendam se grootste bates is.
DA en ANC Sukkel Saam
Toe nog burgemeester Francois du Rand, alombekende kunstenaar en Suurbraak politikus Donovan Julius asook Swellendam sakeman/misdaadvegter Johan van den Berg het saam met my (News62 Redakteur) die baan aangepak.
Voor ons op die eerste bof aangemeld het, het ons loodjies getrek om in spanne opgedeel te word en heel per toeval het die twee takhare, die uwe en Raadslid Julius, ‘n koalisie ooreenkoms onderteken.
Ons manifesto was eenvoudig – bly in die area waar die lawnmowers loop.
Van den Berg en Du Rand het gou agter gekom dat hul jare lange awesigheid van hierdie sport ‘n verlies van ‘n klomp balle tot gevolg sou hê.

Du Rand het op skool laas probeer om die klein wit balletjie te beheer terwyl sy spanmaat sowat twee jaar laas ‘n setperk betree het.
Julius het met die eerste hou van die dag besef dat geluk aan sy kan was. Sy “comrade” is uiteraard ‘n trotse lid van Montagu Gholfklub.
My pragtige dryf is opgevolg met ‘n puik naderhou en ek het naelskraaps die voëltjie gemis.
Uit respek vir die res van die vierbal sal ek nie te veel uitbrei oor hulle spel op die dag nie – maar wat ek wel kan sê is dat die kunstenaar en losskakel van RVK Progress Suurbraak ‘n natuurlik aanvoeling vir die spel het.
Van Sandkuil tot Sukses
In die sankuil wat Swellendam se politiek is, is dit belangrik om die groter prentjie in ag te neem.
Daar is altyd ‘n groot stofwolk wanneer ‘n speler uit hierdie hindernis probeer kom en ons kan net uit die onlangse gebeure sien dat die sand (of modder) wat so rondgegooi word, dikwels die verkeerde indruk van die mens self kan skep.
In ‘n latere gesprek met Van Den Berg het ek die volgende besef.
Beide Du Rand en Julius se vernuf in gholf word ook op die politieke arena weerspieël.
Dit is my mening dat nie een van die twee goeie politikuste is nie – en hierdie is dalk die grootste kompliment wat ek vir enige iemand in die Raad kan gee.
Beide manne is aktief betrokke in die gemeenskap. Hulle doen aansienlik meer vir hulle mense as wat daar ooit besef word. Die twee doen dikwels uitstekende dade sonder om enige erkenning daarvoor te ontvang.
Ek kan so ver gaan om te sê dat hulle van die min Swellendam Raadslede is wat hul sout werd is – veral wanneer dit by die pleit van hul mense kom.
In die Raadsaal glo ek hulle behoort beide so bietjie meer tyd op die dryfbaan te spandeer. Politiek is ‘n vuil sport en in die skandkuil kan mens maklik perspektief verloor.
Du Rand het natuurlik oudergewoonte omkoopgeld aangebied om die uitslag van die gholftoernooi in sy guns te draai en Julius het dit weereens van die hand gewys.
Te vroeg vir so ‘n grappie? Moontlik.
Nee daar was lekker gelag en indien die gees waarin hierdie potjie gholf gespeel is ook in ‘n ongekende vreedsaamheid in die Raad weerspiel kan word, is daar hoop vir Swellendam.