Barrydale Agrimark
Featured News

Selanvor se gebede word in buiteland beantwoord

Selanvor en sy gesin
Written by Mickey Mentz

Selanvor en sy Smitsville gesin ontvang reuse skenking vir die herstelwerk van hul woning

Die lewe is behoorlik ‘n lied vir Smitville digter Selanvor Platjies en sy gesin nadat hul huis wat afgebrand het danksy skenkings wat hul vanuit Engeland ontvang het, herstel is.

Die Platjies gesin moes sedert daardie tragiese nag in 2016, toe hulle alles verloor het, op ander mense staat maak vir verblyf.

Selanvor (23) het ook onlangs verneem dat sowat R85 000 wat hy by sy oupa geërf het uit sy bankrekening gesteel is.

Hy wou dit uiteraard gebruik het om die huis waarin hy groot geword het vir sy ouma hulle reg te maak

Nadese ‘n berig wat op hier gepubliseer is het Jude Brown van Oxford, Engeland, deur ‘n liefdadigheidsorganisasie gesorg dat die fondse wat nodig sou wees om die bouwerk af te handel, ingesamel word.

Hierdie goeie samaritane het meer as R100 000 ingesamel en die resultaat is dat die Platjies gesin vandag snoesig warm weer in hul eie huis woon.

LEES DAARDIE BERIG HIER: Selanvor staan sterk ten spyte van brand, bedrog

“Dit is ‘n wonderlike gevoel om weer tuis te wees,” vertel Selanvor se ouma Fransina.

“Ons is so dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang het, ons sou dit nooit self kon bekostig het nie.”

Vir Selanvor is dit baie spesiaal om weer in dieselfde straat te bly waar hy as kind elke Sondag saam met sy oupa kerk toe gestap het.


“Ons is so dankbaar vir al die mense, veral Jude Brown en die mense in Engeland, wat gehelp het om te sorg dat ons weer terug is waar ons hoort,” vertel Selanvor.

Die jong musiek geesdruftige wat onlangs vir sy klankingenieurswese diploma ingeskryf het, kon nie vir Jude Brown genoeg vir haar bydrae bedank nie.

Hierdie gebaar was beslis nie iets wat hy verwag het nie en die moontlikheid bestaan dat hy sy volgende album (of dalk sy digbundel) aan haar gaan opdra.

Barrydale se bobaas bouers bring hul kant

Selanvor het ook die bouspan wat betrokke was (en teen verlaagde tariewe gewerk het) vir hul ondersteuning geprys.

“Oom Hennie, Jonivan Marais, Elmar Hartnick en dan ook Herman Witbooi van Net vir Pret wat so baie van die materiaal aangery het… baie baie dankie ons waardeer julle!”

Selanvor het bevestig dat sowat 95% van al die boumateriaal by Barrydale Agrimark aangekoop is en dat die diens wat hulle daar ontvang het ook uit die boonste rakke was.

Met warm harte en ‘n lied in sy hart het Selanvor onlangs met die hulp van plaaslike klankman Charl van Zyl van Atomic Events sy musiek video ‘Musiek Gebed’ die lig laat sien.

Selanvor se ‘Musiek Gebed’

Dit is dus duidelik dat sy hart behoorlik van vreugde borrel, maar hy weet dat hy nou hierdie goeie dade wat aan hom en sy gesin getoon is, met goeie dade van sy eie sal terug betaal.

Die Platjies gesin van Smitsville is weer terug in hul huis nadat Jude Brown van Oxford, Engeland, gehelp het om die fondse wat hul nodig gehad het om hul huis oor te bou, ingesamel het. Fansina, Leigh-dre, Jean-Luke en Selanvor is uiteindelik tuis.

Barrydale

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Bella.

Leave a Comment