Community Music News

Selanvor staan sterk ten spyte van brand, bedrog

Written by Mickey Mentz

Drie jaar gelede is die huisie waarin Selanvor Platjies en sy ouma gewoon het, deur ‘n brand (die gevolg van ‘n elektriese fout) verwoes. Hulle het alles verloor.

Kort daarna is die 23-jarige rymkletser van Smitsville ook sy erfporsie kwyt nadat ‘n vrou wat haar as ‘n regeringsbeampte voorgedoen het, die sowat R85 000 wat hy op sy 21 ste verjaardag moes ontvang het, by hom gesteel het.

Dit was ‘n groot terugslag vir die inspirerende digter wie se ma oorlede is toe hy maar drie-jaar oud was. Sy pa was nooit in die prentjie nie en die geld wat hy sou erf was deur sy oupa aan hom bemaak.

Daardie geld kon help dat die herstelwerk aan die huis wat nou reeds ‘n jaar duur, vinniger afgehandel word.

Selanvor vertel hoe hy graag ‘n dak vir sy ouma se huise wil koop. Die gesin gaan ook binnekort die dienste van ‘n loodgieter en goeie elektrisien benodig, maar daar is net eenvoudig nie geld nie.

Ouma Francina is van die staat afhanklik en die salaris wat Selanvor as deel van die Net vir Pret span verdien, maak skaars ‘n duik in hul maandelikse uitgawes.

Op sy pos. Selanvor dien die gemeenskap as ‘n intern by Net vir Pret

Hy vertel hoe hy reeds elke ekstra geldjie deur die jare op bakstene spandeer het en dat hy met die hulp van ‘n paar Barrydalers ten minste die basiese bou-onkostes kon dek.

Die geld is nou egter op en die Platjies gesin begin desepraat raak om weer na hul eie huisie terug te keer.

“Geld is nie alles nie, maar ek en my ouma moet so gou as moontlik weer terug in ons huis kom. Dit is nou al meer as drie jaar,” verduidelik Selanvor.

Buiten die broodnodige bou-materiaal wat hy graag sou wou koop, meen Salenvor dat hy ook ‘n paar rand aan sy musiekdroom wil spandeer.

Hy het vroeg verlede jaar, tydens lockdown, sy debut-album “Woorde Leef” vrygestel en hy is nou maar net eenvoudig een van daardie jong manne wat sy lippe vir nuwe tegnologie en toerusting aflek.

“Daar is ‘n hele paar goed wat ek op Takealot sou wou koop en ek sou beslis my musiekdroom beter kon uitleef,” verduidelik hy.

Polisie ook raadop

Dit is nou meer as ‘n jaar sedert Selanvor ‘n saak van bedrog by die polisie oopgemaak het, maar dit was vroeg duidelik dat die vrou wat haar as ‘n beampte van die Departement van Sosiale Ontwikkeling voorgedoen het, verdwyn het.

Die rede vir haar eerste besoek was om Selanvor te help om die dokumente wat tydens die brand vergaan het te vervang.

Sy het hom op twee geleenthede in Barrydale kom haal en hom Swellendam toe geneem waar hulle verklarings by die polisiestasie afgelê het en ook ‘n nuwe bankrekening oopgemaak het.

Sy het natuurlik heuning aan die jong man se lippe gesmeer en hom vertel dat hy ‘n uitstekende musiekloopbaan het.

Die vrou het na die tweede besoek met die nuwe bankkaart spore gemaak en Selanvor sou later uitvind dat sy R5000.00 per dag uit sy rekening getrek het todat dit leeg was.

“Sy het selfs airtime met die laaste R30 wat in die rekening was gekoop,” vertel Selanvor.

“Aan die een kant besef ek ook dat hoewel dit iets is wat ek moes gekry het, ek nog die heeltyd sonder dit klaar gekom het. So ek wil nie se ek mis dit nie, want ek het dit nooit gehad nie. Dit was daar en om te weet dat ek dit nie kan kry nie is nie lekker nie.”

Ouma Francina het ook vrede met die bedrog gemaak en meen dat elke boontjie sy loontjie kry.

“Dit is baie hartseer, maar ons kan niks daaraan doen nie. Sy moet maar betaal eendag.”

Raadop: Francina Platjies se huis kom net eenvoudig nie klaar nie

Intussen bly die mooiste woorde uit Selanvor se pen vloei. Hy is reeds ‘n inspirasie vir die jeug van Smitsville en hy hoop om eendag saam met ‘n Frazer Barry of Early B die verhoog te deel.

Die plan is om ‘n blink toekoms, en huis vir sy ouma, te bou – en niks gaan hom stop nie.

Persone wat daarin belangstel om Selanvor te help kan vir Derek Joubert van Net vir Pret by 073 264 4399 skakel.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment