Sy maak graag grappies met haar maats, sy geniet dit om skool toe te gaan en nes elke 10-jarige dogtertjie droom sy ook om eendag die wêreld te verken.
Die realiteit is egter dat Trinity Schäffler, oftewel Pinky, geensins ‘n normale lewe lei nie. Sy is sowat twee jaar gelede met kanker (Fibra Mitosis) gediagnoseer en sy het serdertdien reeds ses opersasies en vier biopsies trotseer.
Haar gesin is vandag onder groot druk om die brandstof onkostes vir haar behandeling te dek en in die opsig het die gesin ‘n beroep aan die gemeenskap gedoen om te help waar hul kan.
Daar word eersdaags ‘n Petrol vir Pinky Fonds gestig en dit sal inwoners in staat stel om brandstof donasies by die Route62 Stop Caltex te maak. Meer besonderhede oor die fonds sal gepubliseer word sodra alles in plek is.
Intussen duur haar tuisbehandeling ook voort. Pinky is drie weke van die maand onder behandeling en kan dus vir slegs een week per maand ‘n semi-normale lewe lei waar sy skool toe gaan.
“Tenspyte van al die pyn waardeur sy gaan het sy ‘n baie positiewe uitkyk oor die lewe,” vertel haar ma, Debby-Lee.
“Sy sal met haarself spot wanneer haar haartjies weens die chemoterapie uitval, of opgewonde raak oor die pruik wat sy moet uitkies, solank sy nie ‘n naald hoef te sien nie is sy gelukkig.”

Pinky is meer bang vir naalde as die dood self maar ongelukkig moet sy elke maand daardie week in Kaapstad (in die teenwoordigheid van talle naalde) deurbring wanneer sy haar benadeling ontvang.
Nog ‘n realiteit wat sy vroeg moes besef is dat van haar maatjies wat sy by die Red Cross War Memorial Children’s Hospital in Kaapstad reeds gemaak het, nie noodwendig daar gaan wees wanneer sy vir haar volgende behandeling gaan nie.
“Paliatiewesorg vir kinders is onbeskryflik hartseer. Pinky moes vroeg reeds besef het dat baie van haar maatjies baie ernstig siek is,” verduidelik Debby-Lee.
“Pinky is deur hel hierdie laaste twee jaar. Van interne bloeding tot chroniese moegheid en die newe-effekte wat met bestraling tepaard gaan – my kind het baie seer.”
‘n Klein silwerrand aan die baie donker wolk
Diè jong meisie wat in die skadu van die wêreld beroemde Ronnie’s Sex Shop groot word (Pinky se pa is een van Route 62 se mees bekende kroegmanne) geniet dit om saam met haar mamma die groot stad te verken – duidelik word die drang om inkopies te doen reeds vroeg in meeste vroue opgewakker – so die uitstappie het sy voordele.
Tuissorg nagmerrie
‘n Groot deel van Pinky se behandeling kan op tuisbodem geskied en daar is beide voor- en nadele tot hierdie situasie.
Die een groot plus is dat Debby-Lee daar is om Pinky se hand vas te hou. Haar drie sussies is ook naby en sy voel baie meer gemaklik as in ‘n hospitaal.
Die nadeel is dan ook dat haar hele gesin in hul klein woning aan die proses blootgestel word.
Sy word dikwels siek en die pyn wat sy ervaar… dit is nie ‘n mooi gesig nie.
“Ek bid dat ons ‘n ou karavaan kan kry sodat ons dit vir Pinky kan inrig. Dan kan sy daar in gemak herstel herstel wanneer sy die chemoterapie behandeling ontvang.
“Op die stadium is dit baie beknop hier by ons,”het Debby-Lee verduidelik.
Met die winter om die draai gaan die verkrampte spasie waarin die gesin hul tans vind, net klein word.
Hulle hoop is dat Barrydalers hulle help, al is dit net met ‘n paar rand om brandstof in te gooi sodat ma en dogter vir die volgende jaar Kaapstad toe kan reis.
Vir meer ingligting kan Debby-Lee by 079 531 0351 geskakel word. (Net WhatsApp want die sein op die plaas is baie swak).
Hierdie artikel is deur Ruth Goodman van die Dormehl Property Group geborg.