Sy oorwinning tydens die Wyk 6 tussenverkiesing op 15 Oktober was meer as net oortuigend, dit was ’n duidelike boodskap dat die Patriotic Alliance (PA) in Swellendam gereed maak vir groter dinge.
So sê Julian Matthysen, wat met 811 stemme teenoor die ANC se 486 daarin geslaag het om sy pos as raadslid van die Swellendam Munisipaliteit te behou.
Matthysen het van die ANC oorgeloop omdat hy glo dat die PA die verskil kan maak wat die armste mense in die gemeenskap nodig het. Die skuif het vir die tussenverkiessing gesorg.
“Die mense op die grond soek verandering. Hulle vertrou nie meer die DA of die ANC nie. In hierdie uitslag lê daar ’n duidelike boodskap,” het Matthysen in ’n onderhoud met News62 verduidelik.
“Daar is soveel ongelukkigheid in ons gemeenskap wat eenvoudig eenkant toe gestoot word, sodat diegene met die regte tjommies voordeel kan trek terwyl die armstes aanhou swaarkry.”
Oog op 2026
Hoewel sommige dit dalk as ’n pypdroom beskou, het Matthysen nie geskroom om die PA se planne vir die volgende munisipale verkiesing bekend te maak nie.
“Ons wil ná die volgende verkiesing volle beheer van die Swellendam Munisipaliteit hê. Ek glo ons kan dit regkry, want die gemeenskap sal sien dat ons, hul werknemers, die harde werk insit.”
Matthysen sê hy gaan eenvoudig aanhou doen wat hy reeds doen.
“Ek moet net aanhou om my job te doen, konsentreer op my Wyk vir die volgende plaaslike verkiesing en met hierdie voet wat ons nou in die deur het sal mense sien wat ons kan vermag as ons volle beheer het.
Hy het sy ondersteuners bedank vir hul volgehoue vertroue en beloof om steeds die moeilike pad te stap solank dit tot voordeel van die hele gemeenskap strek.




