Iewers op Route 62 net so voor Barrydale is daar ‘n padteken wat lees: Weirdos Veral Welkom en so het Chris du Plessis hom ook een aand in Barrydale in die Karoo Art Hotel se kroeg neergeplons.
Dieselfde padteken het gesorg dat Lloyd Ross, Rian Malan en Riku Lätti hierdie jaar hier uitgespoel het en dit is heel moontlik ook die rede waarom Roger Bashew so skelm-skelm homself deesdae ‘n Barrydaler noem.

Noem dit die hergeboorte van ‘n gefrustreerde Voëlvry beweging as jy wil – hoewel daar die keer na bewering aansienlik minder drank en dagga ter sprake is.
Moordballades beslis nie vir ‘n enkeling
Die woorde wat Chris noukeurig vir sy se vertoning, Moordballades, gekies het, is nie vir kleuters of kabouters nie.
Dit het uiteraard in Covid sy oorsprong en dit het diepte. Dit prikkel jou brein op ‘n vlak waar AG Visser en sy soetste rosies nie waag om te wees nie.
Hy neem jou op ‘n reis wat jou in ‘n weird way laat besef waarom die Afrikaner nie meer die moeite doen om onderskeid tussen smaak en kwaliteit self na te vors nie.
Die volk eet eenvoudig wat uit die worsmasjien via Snotkop opgedis word.

Dit word ook duidelik in die show dat hy in sy hoedanigheid as kunsredakteur meer as ‘n paar tricks tydens die beroemde Houtstok Fees van 1990 geleer het. Ons sal hierdie aan u verbeelding oorlaat.
Terwyl mens sonder selfoon of pop-ikoon na die man luister, tref die ironie dat mooi van ‘n taal en kultuur deesdae deur TikTok-koppe bepaal word en dit wat eens ‘n mate klas gehad het, vir ‘n geruime tyd reeds so goedkoop oftewel low vibrational is dat selfs die beroemde en omstrede kletsrymer Jack Parow skielik aan die meer suiwer kant van die profanity spektrum aangetref word.
Chris erken graag dat sy toonsettings van C Louis Leipoldt en NP van Wyk Louw se werke nie noodwendig eersdaags die binnekringe van die RSG top treffers sal behaal nie – en daarvoor is ons dankbaar.
He makes you think and laugh, and for just that we are great-full.
Kenners meen sy musiek byt jou aan die enkel en daar is ‘n risiko dat jy weer jou liefde vir langspeelplate, gedigte en ‘n droom van ‘n beter Suid-Afrika vir almal sal vind. Of dalk net meer realisties daaroor sal dink.
Wat ons wel weet is dat ‘n voormalige hoofmeisie van Afrikaans Hoër Meisieskool die skuld (of lof) verdien vir hierdie Barrydale besoek, maar vir nou bly ons so tjoepstil en ons ontleed weer Die Beiteltjie.
DIE BEITELTJIE
N.P. van Wyk Louw
Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.
Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –
ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ‘n voeg:
toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,
die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?
Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see
en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.