Featured News

Vermeende Zembi moordenaar uit op borg

Written by Mickey Mentz

Gemeenskap woedend na uitspraak: “Die regstelsel het ons gefaal”

Cohen “Mickyle” Michaels (19) is op borgtog vrygelaat nadat hy op 25 Januarie in die Barrydale Landdroshof op ‘n klag van moord op die 23-jarige Lionel Zembi verskyn het.

Michaels word daarvan beskuldig dat hy Zembi omstreeks 03:30 op 7 Januarie met ‘n mes in die bors gesteek het. Die omstandighede rondom die insident word ondersoek.

Een van die borgvoorwaardes is dat hy nie weer sy voete in Barrydale mag sit nie. Michaels moet nou na bewering op ‘n plaas buite die dorp woon tot die saak afgehandel word. Hy mag ook nie direk of indirekte kontak met enige van die getuies maak nie.

Lede van die gemeenskap wat die hofverrigtinge bygewoon het, was woedend nadat Michaels vrygelaat is sonder om ‘n sent vir sy borgtog op te dok.

“Die justice system het ons as gemeenskap gefail!,” het Raadslid Amanda Swart van die Swellendam Munisipaliteit tydens die uitspraak gesê.

Sy en ander ontstelde gemeenskapsleiers is daarna deur die polisie uit die hof verwyder.

“Wat is die voorbeeld wat ons hier stel vir misdadigers in ons dorp?” het Swart bygevoeg.

Die rede vir hierdie versagtende omstandighede spruit uit die feit dat hierdie die eerste amptelike kriminele klag teen Michaels is.

Verskeie lede in die gemeenskap het egter aan News62 bevestig dat Michaels ‘n geskiedenis van geweldadige optrede het.

“Ek kan aan ten minste twee ander gevalle dink waar hy iemand gesteek het,” het ‘n jeugleier vertel.

Hierdie voorvalle is egter nie aangemeld nie.

Michaels het die hof met ‘n glimlag uitgestap wat tot verdere ontsteltenis gelei het.

“Hy het nie vir ‘n oomblik gelyk asof hy jammer is vir dit wat hy gedoen het nie. Hy en sy maats het lekker gelag.”

 Die saak is tot 28 Maart uitgestel.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment