‘n Drie deur Marlin Phillips en ‘n enkele strafskop was genoeg om te sorg dat die Barrydale Stryders met ‘n 10-0 oorwinning steeds onoorwonne in die beroemde plaaslike derby teen die Eagles bly.
Die Trossies loop nou 3-0 voor en die Eagles is dus onder groot druk om te sorg dat dit nie 4-0 word wanneer die spanne mekaar later die jaar in die tweede rondte van die liga pak nie.
Die Eagles sal ook mooi moet gaan besin waarom hulle nie die geleenthede wat hulle vroeg in die wedstryd gehad het, in punte omskep het nie.
Tot hul krediet het die Stryders uitstekend verdedig en hulle was ook baie meer geduldig wanneer hulle balbesit geniet het.
Terwyl beide spanne daarvoor bekend is om ‘n opwindende hardlooprugby te speel, het die weersomstandighede dit nie toegelaat nie. Aanvanklik het dit gelyk asof die sterk Eagles pak voorspelers die tempo van die wedstryd sou bepaal.
‘n Groot draaipunt in die wedstryd was toe Die Rooi hul staatemaker-stut Michael Vaaltuin se dienste en ervaring weens ‘n besering verloor het.
Steeds onder die groot manne het die flank Kurtley Erasmus ‘n uitstekende wedstyd vir die Trossies gespeel. Hy was uitstekend by die afbreekpunte en het talle sterk lopies met die bal gehad.
Agterlangs het Erin Bron (senter) sy man goed gestaan en saam met Juniel Hartnick (losskakel) het hulle die Trossies op die voorvoet gehou.
Die ervaring van Denwin Mbela (agtsteman) het ook ‘n groot rol in sy span se oorwinning gespeel.
Spelers wat vir die Eagles uitgestaan het was die skrumskakel Rayward De Wet asook die senter Jacolin Windvogel.
Dit gons behoorlik in Barrydale
Die koue weer het geensins nie die rugby gemeenskap van Barrydale gekeer om hierdie belangrike kragmeting ny te woon nie. Die gees by die plaaslike sportsgronde was uitstekend en danksy die live-streaming van die wedstryd het die gees ook in ander dele van die dorp geheers.
“Daar was groot URC rugby op die skerms hier by die Dung Beetle, maar almal het op hulle fone gesit en die derby gekyk,” het ‘n inwoner verduidelik.
Fotos: deur Graham Abbott