Featured • News

MENING | Francois du Rand en die groot Swellendam-ontsnappingsplan

Written by Mickey Mentz

Skoon oudits, forensiese ondersoeke, politieke chaos en nou ’n internasionale vertrek. Wat kan moontlik verkeerd loop?

Daar is burgemeesters wat hul amp verlaat met ’n nalatenskap en dan is daar burgemeesters wat hul amp verlaat met skoon oudits, ’n paar forensiese ondersoeke, ’n tros onbeantwoorde vrae en blykbaar, ’n vliegtuigkaartjie.

Francois du Rand val vir eers in laasgenoemde kategorie.

Hou net aan, voor iemand egter weer die prokureurs bel, laat ek dit duidelik stel: dit is ’n meningstuk. Ek sê nie Du Rand is korrup nie. Inteendeel, een van die ernstiger bewerings wat direk teen hom gemaak is, naamlik dat hy ANC-raadslid Donovan Julius probeer omkoop het, is ondersoek en Du Rand is daarvan vrygespreek.

Ons sal in ‘n volgende rubriek bietjie ondersoek instel oor Julius wat, nes Du Rand, ook uit die politiek tree.

Hier gaan dit dus nie oor ’n bewering dat die burgemeester aan korrupsie skuldig is nie. Dit gaan oor iets wat dalk selfs meer irriterend is: verantwoordbaarheid.

Ná jare se Swellendam-politiek kan ’n mens vergewe word as jy begin wonder of verantwoordbaarheid in dié dorp dalk in ’n baie doeltreffende ontsnaproete ontwikkel het. Miskien het dit geëmigreer. Net voor die burgemeester.

Die burgemeester van die skoon oudit

Du Rand se bekendste politieke bykomstigheid was nog nooit die burgemeestersketting nie. Dit was die skoon oudit en om regverdig te wees, Swellendam het inderdaad indrukwekkende ouditresultate behaal en het weereens ’n ongekwalifiseerde oudit sonder aangeleenthede vir 2024/25 behaal.

Dit is ’n prestasie. Maar ’n skoon oudit beteken nie noodwendig dat daar geen probleme in ’n munisipaliteit is nie. Jy kan ’n skoon oudit hê terwyl forensiese ondersoekers na tender verkrygingsprosesse kyk, terwyl raadslede baklei oor die implementering van aanbevelings en terwyl nóg ’n ondersoek ingestel word.

News62 se ondersoek het onlangs bevind dat twee groot eksterne forensiese ondersoeke die munisipaliteit ongeveer R911 512 gekos het, terwyl nog ’n finansiële-wangedragondersoek in 2026 geadverteer is. Hier is baie geld spandeer op ondersoeke.

Dit is nie noodwendig ’n teenstrydigheid nie, maar dit is darem ’n interessante definisie van “skoon”.

En dan was daar die munisipale geboue

Dan was daar die dag in 2023 toe die Swellendam-munisipaliteit se administratiewe geboue in ’n brand beskadig is.

’n Munisipale gebou wat veronderstel is om die dorp se administrasie, dokumente en openbare dienslewering te huisves, het in vlamme opgegaan, met die brand wat groot skade veroorsaak het en die munisipaliteit met ’n verdere logistieke en administratiewe kopseer gelaat het.

Dit sou later deel word van ’n groter gesprek oor die toestand van munisipale infrastruktuur, veiligheid en bestuur. Dit is belangrik om nie die brand sommer aan enige politieke of finansiële wanbestuur te koppel sonder bewyse nie.

Maar dit is ook moeilik om oor die toestand van Swellendam se bestuur te skryf sonder om te onthou dat selfs die plek waar daardie bestuur moes plaasvind, op ’n stadium in rook gestaan het.

VIr ‘n Burgemeester wat infrastuktuur wou bou, was die ‘n groot terugslag.

Toe kom Vermaak

Adv. Etienne Vermaak is aangestel om bewerings rondom munisipale tenders te ondersoek. Sy verslag het ernstige kommer oor verskeie tendersprosesse geopper, insluitend bewerings dat prosesse gemanipuleer is en dat werk verrig en betaal is deur ’n diensverskaffer wat nie behoorlik aangestel is nie.

Die verslag het ook ander verkrygingsaangeleenthede en ’n konsultant en maatskappy wat tussen ‘n pa en seun verbind is, onder die loep geneem. Verdere dissiplinêre optrede en moontlike strafregtelike stappe is aanbeveel.

Bewerings is egter bewerings, verslae is verslae en skuldigbevindinge is skuldigbevindinge. Hulle is nie dieselfde ding nie. Die belangrike vraag is wat daarna gebeur het.

Opposisieraadslede het Du Rand daarvan beskuldig dat Raadsbesluite wat uit die ondersoek voortgevloei het, nie behoorlik geïmplementeer is nie. Du Rand het dit betwis en aangevoer dat daar wel opgetree is.

En só beland ons weer in daardie bekende Suid-Afrikaanse munisipale posisie waar almal blykbaar iets gedoen het, niemand saamstem oor presies wat gedoen is nie en die belastingbetaler steeds die rekening ontvang.

Dit laat my aan Jacob Zuma se stories dink.

Ses teen vyf

In Januarie 2025 is Du Rand as burgemeester verwyder met ’n stemming van ses teen vyf. Die mosie het onder meer verwys na die implementering van Raadsbesluite en die hantering van bewerings van wangedrag.

Toe weier die VF Plus-speaker, Juan van Schalkwyk, om Du Rand eenvoudig weer in die burgemeestersstoel te plaas. Van Schalkwyk het uiteindelik bedank en die koalisie as “roekeloos” en “disfunksioneel” beskryf.

Vir ’n kort rukkie het Swellendam daarin geslaag om sonder ’n burgemeester én sonder ’n speaker te sit. Dit was nogal ’n prestasie vir ’n munisipaliteit van Swellendam se grootte. Maar politieke somme is ’n wonderlike ding.

Du Rand het teruggekeer. Die burgemeestersketting het oorleef. Swellendam het aangegaan.

So sit ek en wonder; gaan Van Schalkwyk dalk eendag die een gaan wees wat laaste lag?

Die forensiese ondersoeke stroom in

Toe kom Nexus. Daarna Mubesko. En daarna nóg ’n ondersoek(e) deur Morar. Nog niks wat aan die belastingbetaling bekend gemaak kan word nie, maar beslis ‘n sirkus.

News24 het oor bevindings rondom bedrog, vervalsing en tendermanipulasie berig, waarna Du Rand ’n klag by die Persombudsman ingedien het.

Ombudsman het later bevind dat News24 sekere bewerings verkeerdelik aan die Nexus-verslag toegeskryf het en die publikasie is gelas om regstellings te maak en om verskoning te vra.

Dit is belangrik om die uit te wys. Du Rand het gevoel sy kop is deur, net om nog ondersoeke te sien instroom.

Dit is ook uiters belangrik om nie die Persombudsman te gebruik asof dit die hele onderliggende verhaal van die Nexus-verslag ongeldig verklaar het nie. Die uitspraak het spesifiek gehandel oor die akkuraatheid van die beriggewing en die toeskrywing van sekere bewerings.

Die groter vraag bly dus staan: hoeveel keer moet ’n munisipaliteit ondersoek word voordat iemand eenvoudig begin regmaak wat die ondersoeke aanhou uitwys?

Meer as R1-miljoen later

Volgens beskikbare rekords het Nexus die munisipaliteit ongeveer R515 512 gekos en Mubesko ongeveer R396 000.Saam is dit ongeveer R911 512 en dan moet die Morar ondersoeke nog op die boeke kom.

News62 het berig dat die munisipaliteit in Junie 2026 nog ’n finansiële-wangedragondersoek geadverteer het, waarvan die finale toekenningsbedrag nog nie uit die openbare rekords vasgestel kon word nie.

Dink daaroor.

’n Munisipaliteit wat graag sy finansiële dissipline beklemtoon, het binne ’n relatief kort tyd honderde duisende rand bestee om probleme rondom bestuur, tenders en moontlike bedrog te ondersoek.

Die ondersoeke kos geld. Die probleme kos geld en uiteindelik betaal dieselfde mense vir albei – Ek en jy, die belastingbetaler.

En nou vertrek Francois

Van vuur en vlam tot ‘n drastiese verandering in rigting. Dit is alombekend dat Du Rand as burgemeester uittree en dat hy saam my sy gesin oorsee gaan woon. Presies wanneer hy vertrek is ‘n ander vraag aangesien hy heel moontlik as ‘n getuie in van die sake wat steeds hangend is, gaan moet getuig.

Kyk, daar is opsigself niks verdag aan iemand wat besluit om die land te verlaat nie. Mense verhuis. Gesinne begin nuwe lewens. Burgemeesters tree af en ons land is…. kom ons vloek nie nou nie.

Maar polities gesproke is die tydsberekening interessant. Ná ’n mosie van wantrou, ’n politieke terugkeer na die burgemeesterspos, herhaalde politieke gevegte, verskeie forensiese ondersoeke en nóg ’n ondersoek wat die jaar (2026) aangekondig is, verlaat Du Rand nou die verhoog.

Dit is ‘n kopkrapper die.

Was die verhuising jare lank reeds beplan? Is dit bloot ’n persoonlike besluit? Het hy eenvoudig genoeg gehad van Swellendam en die DA se politiek?

Dit is redelike vrae, maar daar is ’n moerse verskil tussen vrae vra en bewerings maak. Tensy daar bewyse is wat sy vertrek aan enige ondersoek of beweerde onreëlmatigheid verbind, kan niemand verantwoordelik sê dat die een iets met die ander te doen het nie.

Verdagte tydsberekening is nie bewys van verdagte optrede nie. Dalk weet hy meer as die res van ons. Dalk het die besluit meer met sy veiligheid te doen of dalk begin hy ‘n nuwe winkel wat biltong aan homesick Blou Bul fans verkoop.

Die werklike teenstrydigheid

Dit is wat Du Rand se politiekenalatenskap so interessant maak.

Sy openbare handelsmerk gaan oor professionaliteit, finansiële dissipline, ekonomiese ontwikkeling en ’n beter bestuurde munisipaliteit. Ons het koffie gedrink nog voor hy die ketting om sy nek gehang het en sy hoof doelwit was “volhoubare finansiële dissipline – bo alles.”

Hy wou ook infrastruktuur ontwikkel en ja, Swellendam het beslis uit sy nate begin bars. Beleggers kyk steeds na die dorp as ‘n juweel in die platteland met baie opsies en gesonde stelsels.

Daar is ook werklike prestasies waarna Du Rand kan wys, waaronder Swellendam se sterk ouditresultate en sy vermoë om sonder ‘n GPS in Barrydale funksies by te woon, redelik goed lyk.

Hy het egter Barrydale (Wyk2) vir ‘n appel en ‘n ui tydens ‘n tussenverkiesing verloor. Dit het die DA sy meerderheid in die Raad gekos.

Dieselfde munisipaliteit het onder sy leierskap talle met bewerings oor tenderonreëlmatighede, forensiese ondersoeke, dissiplinêre prosesse en politieke onstabiliteit geworstel.

Die meer ongemaklike vraag is egter of ’n skoon oudit ooit as plaasvervanger vir politieke verantwoordbaarheid gebruik kan word.

Goeie finansiële syfers beteken nie outomaties goeie politieke aanspreeklikheid nie.

Miskien is sy grootste prestasie oorlewing

As daar een ding is wat Du Rand beslis tydens sy politieke loopbaan gedemonstreer het, is dit oorlewing.

Hy het ’n mosie van wantrou of twee oorleef, politieke aanvalle oorleef, die ineenstorting van ’n koalisie-ondersteuningsreëling oorleef, die bedanking van ’n Speaker oorleef en uiteindelik weer in die burgemeestersstoel beland.

“I get knocked down, but I get up again,” so ala Chumbawamba styl het hy gebrag toe hy weer ingestem is.

Hy het aangehou praat oor skoon oudits op sy AI blog en eerlikwaar, die man verdien ’n sertifikaat.

Miskien selfs ’n skoon oudit. Maar dan bly daar die onafgehandelde vrae.

As amptenare skuldig was, wat het met hulle gebeur? Tot op hede niks.

As geld verlore gegaan het, is dit teruggekry? Beslis nie.

As strafregtelike stappe aanbeveel is, is dit geneem? En as die Raad opdrag gegee het dat iets gedoen moet word, is dit gedoen?

Daardie vrae klim nie op ’n vliegtuig nie. Hulle bly hier. In Swellendam.

Totsiens, meneer die burgemeester

Miskien sal Du Rand Swellendam verlaat nadat hy presies gelewer het wat hy belowe het: ’n finansieel stabiele munisipaliteit, ’n skoon oudit, infrastruktuurprojekte en ’n beter toekoms.

Miskien. Maar daar is ’n ander moontlike nalatenskap.

’n Burgemeester wat aan die hoof gestaan het van ’n munisipaliteit waar die boeke goed kon lyk terwyl die politiek al hoe meer deurmekaar geraak het. ’n Burgemeester wat na skoon oudits kon wys terwyl forensiese ondersoeke bly opduik het. ’n Burgemeester wat verwyder is, teruggekeer het en uiteindelik besluit het om te vertrek.

En nou, terwyl nóg ’n hoofstuk in Swellendam se lang verhaal van ondersoeke en politieke konflik ontvou, is sy tassies amper gepak.

Weereens: dit bewys niks. Maar dit laat ’n laaste, ongemaklike vraag oor die burgemeestersketting hang:

Was Francois du Rand die man wat Swellendam se probleme opgelos het, of het hy bloot baie goed geword om dit te oorleef?

Die antwoord hoef gelukkig nie van my af te kom nie. Die dokumente is daar. Die Raadsnotules is daar. Die forensiese verslae is daar. Die fakture is daar. Anders as die Burgemeester, emigreer hulle nie.

PS: Franna ek sou jou wou bel in toetsiens sê, maar toe daar nog ‘n ondersoek land en julle besluit om toe te laat dat iemand wat reeds ondersoek word bevordering word, toe blok jy my mos, weer.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment