Community Featured News

Jeugpredikant Ivor Swartz kuier by Lemoenshoek Primêr

Written by Mickey Mentz

Die verlore seun van die Gaatjie dra belangrike boodskap aan Barrydale leerders oor

Die jeugpredikant Ivor Swarts het op 10 November by Lemoenshoek Primêr buite Barrydale besoek afgelê waar hy sy treffende boodskap van hoop en liefde aan die plaasskooltjie leerders oorgedra het.

Die bekende prediker van die NG Kerk Oosterlig, Pretoria, se boek Die Verlore Seun Van Die Gaatjie is in Julie uitgereik en is met groot lof in geestelike kringe ontvang.


Die boek handel oor die besluite wat hy as tiener in Grabouw geneem het, wat sy lewe onherroeplik verander het. Ivor het ‘n vonnis van meer as ses jaar in die tronk uitgedien nadat hy en sy vriende skuldig bevind is aan die moord op sy ouer broer een Sondagaand.

Behalwe vir die inspirerende toespraak wat Ivor gelewer het, was dit vir hom op ‘n persoonlike vlak ook ‘n besondere dag, aangesien dit die eerste geleentheid was vir sy ou vriend Romeo Moore (leier van hul jeugbende) om saam met hom ‘n skool te besoek.

Ivor Swartz, Elmé van de Vyver (waarnemende skoolhoof) en Romeo Moore by Lemoenshoek Primêr

Terwyl Ivor vir ses jaar tronktoe gestuur is, het Romeo meer as 16 jaar agter tralies gesit en hy, nes Ivor, kan hul lot aan een groot fout wat die jeug vandag nog maak, toeskryf.

“Die grootste probleem wat ons jeug het, is dat hulle die verkeerde rolmodelle volg,” het Romeo verduidelik.

Hy meen dat hy vandag vir die verkeerde redes as ‘n “celebrity” in sy gemeenskap beskou word en dat jongmense dit in hul koppe moet kry dat drug dealers en gangsters die swakste rolmodelle moontlik is.

“Ek is nou terug in Die Gaatjie en ek weet dit is my taak om nou terug te ploeg in die gemeenskap sodat ander jongmense nie dieselfde pad as ek hoef te loop nie.”

Ivor het die Lemoenshoekers stip in die oë gekyk en op sy unieke (amper opwindende) wyse verduidelik dat hulle ‘n besondere geleentheid het om ‘n groot sukses van hul lewens te maak – mits hulle die advies van hul ouers en onderwysers volg.

“Een van die grootste leuens wat ek en jy glo, is dat ons lewe nooit kan verander nie,” het Ivor verduidelik.

“Ons glo dat ons nooit uit ons omstandighede sal kom nie en solank as wat dit is waarin ons glo, sal dit so bly.”

Ivor Swartz

Hy het verduidelik dat daar altyd ‘n groter moet hoop wees; dat mens moet bly glo dat daar meer tot die lewe is, as wat jou huidige situasie bied.

“My storie van my ouers en my omstandighede, hoe swaar dit was en hoe armoede ons lewe gedefinieer het, het my laat besef daar meer moet wees.

“As jy uithou in die skool, as jy doelgerig bly in jou skoolwerk, jou beste gee in jou skoolwerk, kan en sal jou lewe kan verander. Dit is moontlik.”

“En weet vandag jy is nie alleen nie, al voel dit soms so.”

Lemoenshoek leerders saniteer voor hulle die wyse woorde van Ivor ontvang

Buiten ‘n sterk vader figuur in ‘n kind se lewe – Ivor meen dat die verlies van sy pa op ‘n jong ouderdom beslis tot sy vorige lewe as dief en dwelms gebruiker bygedra het, is geloof die rots waarop hy sy nuwe lewe kon bou.

“God se oorspringklike plan is dat ons almal ‘n goeie lewe sal lei en dat ons almal ‘n bydrae sal maak om die wêreld ‘n beter plek te maak.

“God het ‘n beautiful plan met elkeen van julle lewens as julle net aanhou vashou aan die hoop dat julle omstandighede nou nie bepalend is van hoe jou omstandighede gaan wees in die toekoms nie.”

“Hoe jou lewe nou lyk, is nie noodwendig hoe jou lewe gaan lyk oor 20-25 jaar nie.”

Vanuit ‘n diep donker tronksel het Ivor se lewe verander in een wat met die van ‘n rock star vergelyk kan word. Hy reis die land plat en wanneer hy nie die lewens van jongmense met sy inspireerende woorde ingryp nie kan hy op verskeie televisieprogramme gesien word.

Hy is dus die rolmodel wat die jeug so na smag en as dinge uitwerk soos dit moet gaan Romeo ook binnekort hierdie journey met hom  deel.

Die tweetjies het tydens hul onlangse roadtrip oor baie diep dinge kon gesels en hierdie skrywer wag in spanning vir Romeo om ook sy verhaal te pen.

“Ek en Romeo gesels baie oor die toekoms van ons land. Dit is belangrik dat ons hande vat in die gemeenskap. My ding was dat as jy nie waarde verandeing bring onder die jeug nie en jy help nie met prison reform nie – alles wat in between gebeur is vir my ‘n waste. Jy wil vir ‘n graad 4-kind kan wys dat hy ‘n toekoms het en vir ‘n ou wat nou op pad is uit die tronk uit, dat hy kan teruggaan sonder om homself weer oor te gee aan dieselfde dinge wat hom in die eerste plek ontspoor het. As ons nie hierin belê nie, gaan die bose kringloop eenvoudig net voortduur.”

* ‘n Besondere woord van dank aan Lemonshoek Primêr se waarnemende hoof Elmé van de Vyver wat hierdie insiggewende dag moontlik gemaak het.

Lees ook: Khoi jeug will gemotiveerde entrepeneurs ontwikkel

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment