Dit was ‘n warm Sondagmiddag vroeg in Augustus toe Desmond Sauer en Alex Kruger ‘n groep van sowat 30 mense by die Waterfall Eco Farm Stay buite Zoar verwelkom het.
Hulle doelwit was om verskeie gemeenskappe te mobiliseer sodat hulle met eenvoudige planne die komplekse probleem van voedseltekort kan oplos.
Min het hulle geweet dat diè planne so goed sou werk dat daar eersdaags in Zoar ‘n plaaslike produkte mark die lig sal sien.
Tydens daardie eerste samekoms aan die voet van die Seweweekspoortpas het ‘n ongelooflike saad uitruil netwerk tussen die gemeenskappe van van Zoar, Hoeko, Opsoek, Van Wyksdorp en Ladismith tot stand gekom.
Mense het na afloop van ‘n groepsbespreking saad, saailinge, advies en morele ondersteuning begin deel. ‘n Whatsapp groep en Facebook blad en binne het die lig gesien en binne ‘n kwessie van weke was talle mense wat nie noodwendig tuiniers was nie, besig om hulle blomtuine in groentetuine te omskep.

Alex, wie heel toevallig een van Suid-Afrika se voorste permakultuur kenners is, het ‘n paar tuinmaak klasse aangebied en deur hierdie kennis asook voorraad onder mekaar te deel, spog die onderskeie gemeenskappe vandag met uitstekende saadbanke en natuurlik van die heerlikste vars groente.
Die Kannaland CAN groep is deel van die Community Action Network wat in Kaapstad vlam gevat het toe die nasionale ramptoestant aangekondig is – en met Desmond en Alex aan die stuur, gons dinge behoorlik.

Tydens News62 se opvolg besoek vandeesweek was dit ‘n riem onder die hart (incredibly humbling experience) om te sien hoe Desmond se tuin vanuit Karoostof in iets besonders omskep is.
Waar daar voorheen droë kolle was, groei daar vandag beet, spinasie, uie, blomkool, wortels, radysse, sonneblomme en ‘n versameling kruie wat enige kok se hartjie bly sal maak.

Vir Desmond was die proses amper meer belangrik as die groente wat hy vandag pluk.
“Ek geniet dit om in harmonie met die natuur te leef en om die vreugde en vrugte van my arbeid saam met ander mense te deel,”
Desmond Sauer
En die beste van alles: die onkostes wat hy moes aangaan om van hierdie projek ‘n sukses te maak, is nie eens noemenswaardig nie.

Vir meer inligting oor die Kannalanders volg hulle op Facebook.