Food Lifestyle News

Koninklike koffie en nog baie meer by Die Bakhuis

Written by Mickey Mentz

Daar is ‘n nuwe barista op Calitzdorp en hy ken sy storie. Die kans is groot dat die cappuccinos wat hy skink van die heel beste is wat jy op die hele R62 sal proe.

Hier by News62 weet ons genoeg om te weet wanneer ‘n cappuccino die rede vir ‘n opvolg besoek gaan wees. Dus sal ons binne die volgende week beslis weer Die Bakhuis besoek.

Die man agter die stoommasjien is Henry Gerber en hy het by die Karoo Padstal buite Richmond in die Noord Kaap sy koffiekennis opgedoen, waarna hy die kuns in Kaapstad by Truth Coffee bemeester het.

Hy en vennoot Yuriëtta Stevens het onlangs die verlatenheid van die Groot Karoo vir die meer intieme stilte van die Klein Karoo verruil.

Bobaas Barista Henry Gerber op sy pos

Hullle het op 19 Desember Die Bakhuis se deure oopgemaak en is onmiddelik met ope arms deur die dorpsmense verwelkom

“Almal wil mos maar inloer en kyk wat in die nuwe winkel op die dorp gebeur, maar ons is bly dat baie van die mense nou gereelde Bakhuis besoekers geword het,” verduidelik Yuriëtta.

Vir Henry, wat meer vertroud is met die rustigheid van Richmond, was dit net so ‘n groot verassing om te sien hoe gaaf die Calitzdorp gemeenskap werklik is.

Hy erken dat hy nog aan die verskil in klimaat gewoond moet raak (Calitzdorp is beroemd vir sy drukkende hitte en heerlike Portugese druiwe), maar dat hy ook opgewonde is oor wat die toekoms inhou.

“Dit is beslis anders as die groot ooptes waar ek groot geword het, maar ons glo in ons produk en dit wil voorkom of die mense hier, en die handjievol toeriste wat verby kom, ons kos en koffie geniet.”

Die nostalgiese gevoel wat deur Die Bakhuis se dekor geskep word komplimenteer die uitsig oor die Nelsrivier en bied beslis lafenis vir die siel – dit is nou nog voor die saak van voeding aangespreek word.

Al ooit ‘n “pulled lamb pizza” geëet? Wat van ‘n pizza met biltong, gekarameliseerde uie en bloukaas? Beide hierdie wenners is op hul spyskaart wat kreun van heerlike, oorspronklike, tuisgemaakte geregte.

O ja, daar word natuurlik ook gebak in Die Bakhuis. So maak gerus ‘n draai as die kombinasie van die beste boeretroos, ‘n beeldskone uitsig en ‘n bakoond wat bobaas pizzas vervaardig jou ding is.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella, Obi en Jasper.

Leave a Comment