Community Environment News

Smitsville inwoners pleit vir Sanitasie oplossing

Written by Mickey Mentz

Terwyl die groep hoogs onstelde inwoners van Smitsville se plakkerskamp aandui presies waar hulle badkamer is, hardloop daar ‘n groep laerskool seuns verby.

Dit lyk of hulle wegkruipertjie speel.

“Daardie bossies is mos ons toilette!” verduidelik lewenslange Barrydale inwoner Miena Le Roux.

Sy en die sowat 13 gesinne wat in die omgewing sinkhokke opgerig het, benodig dringend toilette.

“Hier is kinders hier by ons en ons is bang die vroumense tel infeksie op. Ons wil dit net skoner hê hier rondom ons. Ons het al oorweeg om ‘n gat te maak en die emmer daarin te gooi. Dit is onrein,” het Le Roux verduidelik.

“Ons sal dit baie waardeer as ons kan toilets kry; dit is baie ongesond.”

Sy het vertel hoe die plakergemeenskap al op verskeie geleenthede by die owerhede gepleit het dat hulle van basiese sanitasie-geriewe voorsien word.

Tot dusvêr is daar geen teken dat daar binnekort enige toilette opgerig gaan word nie en hoewel hulle baie dankbaar is dat hulle onlangs toegang tot water ontvang het, wek die tekort aan toilette groot kommer.

Volgens Petro Roos is daar aan die plakkers verduidelik dat hulle onwettig daar woon en dat hulle nie vir toilette kwalifiseer nie.

“Ons sit nie onwettig hier nie, ons sit hier omdat ons behoeftig is,” het Roos vertel.

“Niemand sou hier kom plak het as hulle nie behoeftes gehad het nie.”

Anneke van Rooi, wat al vir meer as 4 jaar in die Gwarrie Kamp woon, reken sy het reeds genoeg leë beloftes vanaf politicians uit alle oorde gehoor.

“Ons word elke keer heuning aan ons monde gesmeer oor huise wat ons nooit kry nie,” het Van Rooi verduidelik.

Anneke wys waar sy en die vroue hul besigheid moet doen

Vir haar en die ander gesinne wat sukkel om snags in die bossies te buk, sal ‘n spreilig ‘n groot verskil maak.

Die gemeenskap is raadop.

“Ek is al van 2008 af op die waglys. My kinders is al groot, ek is al ouma, maar ek bly wag terwyl mense wat na my op die lys is, huise kry,” het Roos bygevoeg.

Le Roux vertel weer dat sy al van die 90s af op die waglys is.

‘n Ander voorstel is dat die Gwarriekamp inwoners hul hokkies in Smitsville se agterplase opslaan.

Hulle antwoord op die is eenvoudig: Daar is nie geld nie.

“Ons kan nie in iemand anders se yard gaan bly nie. Ons kry R400 ‘n maand dan vra ‘n man jou R800 vir huur en dan moet jy nog krag ook betaal. Wat maak jy in elk geval met R400 as jy en jou kinders moet leef? ” het Van Rooi vertel.

“Die bietjie wat jy het moet jy en jou kindertjies gebruik sodat jy kan leef daaruit – van die hand na die mond.”

Die leiers van die klein sub-gemeenskap is dit eens: Hulle sal nie weer geskuif word nie. Hulle groentetuine kom goed aan en hulle kort net behoorlike sanitasie – as ordentlike huise dan nie beskikbaar is nie.

 “Hier gat hulle my uit dra, graveyards toe en daar gaan begrawe, want ek het nog nie ‘n huis nie,” vertel Roos.

Le Roux meen sy gaan ook nie gou iewers anders heen nie.

“Sorry vir die, maar hier gaan ek my nie laat rond stoot nie, hier sit ek vas soos kak aan ‘n wolkombers.”

“Toe hulle vir my sê gaan terug na jou gesin toe, toe sê ek dat dit nie altyd so goeie idee is as ouers by hul kinders woon nie en twee vouens voor een stoof is ook vir moielikheid soek, dis ‘n ongesonde storie.

Daar word tans nuwe huise in die gemeenskap gebou maar dit is reeds aan ander behoefdige mense belowe.

‘n Oulike Gwarriekamp kat

Die volgende lied is deur Frazer Barry geskryf en News62 vind dat dit ook op die Gwarriekamp van toepassing is.

Tribal Echo – Meneer Die President

Ek wonne of jy wiet van my ja

Dit is ek wat in daai sinkhokkie stink hokkie bly

Ek wonne of jy rêrig sien hoe min geld ek verdien

Ek wiet die land is baie groot

En ons almal werk maar hard vir ‘n stukkie brood

Maar jou inflasie sit druk op die nasie ek issi snaaks nie

Ek wil nie hê dit moet klink of ek raasi

Meneer die President ek wonne of jy my ken

‘n Paar jaar gelede het ek vir jou party gestem

Jy het belowe jy gaan jou bes probeer

Meneer die President daar het gans te min gebeur

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment