Rolbal is sy passie en oor die afgelope twee jaar het Charldré Saayman ‘n punt daarvan gemaak om die sport wat hy so baie geniet, te bemeester.

Die jong man is onlangs as die Boland Onder-35-enkelspelkampioen bekroon, en die kranige speler van Barrydale Rolbalklub sien nou daarna uit om sy provinsie op nasionale vlak te verteenwoordig.
Saayman moes verlede jaar tevrede wees met ’n tweede plek in die Boland-enkelspelafdeling, en hy het daar en dan besluit om alles in sy vermoë te doen om die kroon in te palm.
Die nederige jong man het reeds in 2024 sy stempel in Barrydale afgedruk toe hy die klubkampioenskappe oortuigend gewen het. Hierdie jaar het hy gesorg dat hy sy kroon suksesvol verdedig.
“Dit was geensins ’n maklike taak nie. Ek het teen groot name in die sport meegeding, maar uiteindelik was dit my dag, en ek wil graag die bestuur van Barrydale Rolbalklub bedank vir die ondersteuning wat hulle my deur die jare gebied het,” het Saayman verduidelik.
Sy volgende groot toernooi vind op 13 Julie plaas waar hy Boland in die Onder-35-pare finaal gaan verteenwoordig.
Barrydalers bly oor die prestasie
Uiteraard is Barrydale Rolbalklub-president Renaldo Claassen in sy noppies oor hierdie geskiedkundige prestasie.
“Ons eerste senior Boland-speler!” het Claassen verjeug vertel.
“Ek dink dit is ’n bewys van wat die klub oor die jare se topspelers oplewer. Die standaard van spelers wat ons in ons arsenaal het, spreek boekdele van die ontwikkeling wat hier in Barrydale plaasvind.
“Ek glo na Charldré is daar nog baie op pad.”
Claassen het verwys na die sukses wat Matthew Janniker (junior parekampioen) en Rewaldo Fortuin (junior enkelspelkampioen) reeds bereik het.
“Rolbal in Barrydale is nie net rolbal nie. Ons spelers presteer ongeag die omstandighede van die klub. Ons is ’n baie klein klub in terme van getalle, maar die kwaliteit van ons spelers maak daarvoor op.”
