Karoo Art Hotel
Featured News

“Ek is nie ‘n moordenaar nie”

Bianca Pieters
Written by Mickey Mentz

Jong moeder pleit by gemeenskap om haar nie te oordeel nie

Smitsville inwoner Bianca Pieters (22) is op 13 Desember in hegtenis geneem nadat haar vier maande oue baba, Arzu, gesterf het.

Daar is toe beweer dat sy haar baba uit frustrasie rond gegooi het en daarom is ‘n moordsaak teen haar oopgemaak.

Sy is egter na meer as twee maande agter tralies vrygelaat toe die nadoodse ondersoek gevind het dat Arzu as gevolg van tuberkulose gesterf het.

Smitsville steeds woedend

Die gemeenskap het haar geensins met ope arms terug verwelkom nie. Bianca het vertel hoe sy steeds vuil uitgekyk word en dat mense gereeld voor haar voordeur op haar staan en skree.

Haar weergawe van dit wat op die dag van Arzu se dood gebeur het, verskil hemelsbreed van die stories wat in die dorp versprei is.

Leroy Pieters
Leroy Pieters is bly dat sy mamma na twee maande weer terug by die huis is

“Ek was by my bure, met my babatjie in my arms toe begin hulle aan my slaan,” het Bianca vertel.

“Ek en my ma het daarna huistoe gekom en kom slaap en die Saterdag oggend het ek gesien sy het skuimpies aan haar mond, maar sy het nog aan my bors gedrink, toe het ek nie opgelet dat ek fout is nie.”

Bianca vertel dat sy later die oggend weer gaan lê het en toe sy weer wakker geword het, het sy agtergekom dat klein Arzu nie meer lewe nie.

“Ek het toe dadelik die ambulans en die polisie gebel.”

Ashley Laats
*Advertensie

Toe die bure van hierdie gebeure verneem het, het hulle op haar begin skreeu waarna die polisie besluit het om Bianca in hegtenis te neem.

“My kind het hier gebly en ek kon nie eens sien hoe sy hier weg is nie.”

Sy het die Maandag in Swellendam Landdroshof voorgekom en is daarna Worcester toe verplaas waar sy vir die afgelope twee maande verhoorafwagtend was.

Op 6 Januarie het haar saak weer voorgekom, maar toe was die nadoodse ondersoek se uitslae nog nie bekend nie.

“Toe ek in Februarie voorkom toe laat hulle my weet dat hulle haar longetjies uitgehaal het en gevind het TB die oorsaak van haar dood was. En dit het niks met die slanery uit te waai gehad nie.”

Moeder was by kliniek

Bianca verduidelik dat sy voor die voorval haar dogter na die kliniek geneem het toe sy merkies op haar lyfie opgelet het, maar dit was te vroeg vir ‘n diagnose en sy het salf gekry.

“Ek was aanmekaar by die kliniek maar hulle kon nie vir my sê wat die kind makeer nie.”

Toe sy weer by haar drie kinders by die huis kom het die gemeenskap haar as ‘n moordenaar uitgekryt.

Bianca het vertel dat sy nog die seer van haar dogtertjie se afsterwe verwerk en dat sy seergemaak voel oor die valse aantuigings.

“Daar is dae wat ek nie kan eet of slaap nie en ek voel so ongelukkig want mense kyk vir my en dink ek is ‘n moordenaar.”


Die bure wat, volgens Bianca, haar aangerand het terwyl sy haar baba in haar arms gehad het, het ‘n saak van aanranding teen haar gemaak.

Hierdie saak sal in April voorkom, maar intussen probeer Bianca weer om sake met haar dogter Biansa (7) en seun Leroy (2) reg te stel.

Haar grootste troos kom egter van oorlede Arzu se tweeling sussie Arza wie sy soos goud oppas.

Bianca Pieters
Arza en Bianca Pieters

Lees Ook

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella en Obi.