Featured News

McKenzie belowe om swembad in Smitsville te bou

Gayton McKenzie
Written by Mickey Mentz

Barrydale – Patriotic Alliance (PA) president Gayton McKenzie het op die vooraand van Swellendam Munisipaliteit se Wyk 2 tussenverkiesing belowe dat sy party Maandag met die konstruksie van ‘n nuwe swembad in Smitsville sal begin as sy party hierdie belangrike verkiesing wen.

“As die PA hierdie verkiesing wen, bou ek Maandag ‘n swembad vir die gemeenskap,” het McKenzie gesê.

McKenzie meen dat die Democratic Alliance (DA) en African National Congress (ANC) reeds die geleentheid gehad het om die septer in Wyk 2 te swaai, en dat dit nou die PA se beurt is.

Hy het aan ‘n stampvol stadium by Barrydale Sportgronde verduidelik dat hy hom op die jeug sal toespits en dat daar eerder op die ontwikkeling van entrepreneurs as werkskepping as sulks gefokus sal word.

PA Ondersteuners tydens Gayton McKenzie se toespraak in Smitsville

“Die tyd van nog plaas- en fabriekwerkers is verby. Ons jeug moet die eienaars van die nuwe fabrieke word.”

McKenzie het ook sy misnoë uitgespreek nadat PA Wykskandidaat Brandon Festus op 16 Maart deur Barrydale SAPS gearresteer is.

Hy het die voorval aan ‘n “korrupte” lid van die polisie toegeskryf en gesê dat dit in die aanloop tot die verkiesing ‘n geval was van “benoude mense maak benoude spronge”.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, sers Christopher Spies is die verdagte (Festus) tydens ‘n operasie wat in die gemeenskap uitgevoer is gearresteer toe hy na bewering die polisie probeer verhoed het om hul werk te doen.

Festus is die volgende dag deur Swellendam Distrikshof vrygelaat. Die saak duur voort.

McKenzie het afgesluit deur dit bekend te maak dat dit sy doelwit is om die volgende president van Suid Afika te word.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella en Obi.

Leave a Comment