Hoërskool Barrydale se spogatleet, Aushwin-Leigh Jantjies, vertrek op 12 Julie na Frankryk en Italië waar hy van 12 tot 24 Julie aan ‘n internasionale atletiekbyeenkomste as deeel van die Wes-Kaap Skoleatletiekspan en World Wide Scholarships-span sal deelneem.

Jantjies, wat as een van die Wes-Kaap se voorste jong atlete beskou word, se reis het in Barrydale begin waar hy met harde werk deursettingsvermoë en die ondersteuning van sy afrigters en gemeenskap, sy droom stap vir stap verwesenlik het.
Die geleentheid is moontlik gemaak deur die ondersteuning van plaaslike besighede, Barrydale serugbyklubs, borge, skenkers en talle gemeenskapslede wat deur fondsinsamelings en finansiële bydraes gehelp het om sy internasionale droom ‘n realiteit te maak.
Sy afrigter, Menner Dujon Swanepoel, sê Aushwin-Leigh se prestasie is die beloning vir jare se toewyding.
“Ons is ongelooflik trots op Aushwin-Leigh. Hy het hard gewerk vir hierdie geleentheid en verdien elke oomblik daarvan. Hy dra nie net sy eie drome saam nie, maar ook die trots van Barrydale. Ons weet hy sal Suid-Afrika met waardigheid verteenwoordig en alles gee wanneer hy op die baan staan.”
Wanneer Jantjies eersdaags internasionaal meeding, sal hy nie net sy eie ambisies nastreef nie, maar ook die trots en ondersteuning van ’n hele gemeenskap saam met hom dra.
Barrydale wens hom ’n veilige reis toe en alle sterkte vir die kompetisie. Die dorp sal met trots sy vordering volg terwyl hy die Suid-Afrikaanse vlag op die internasionale verhoog verteenwoordig.




