Community Environment News

Uitheemse bome, plante sal nie hier geduld word nie

Written by Mickey Mentz

Inwoners van Barrydale het tydens ‘n onlangse besoek van Cape Nature en die Wes Kaap se Department van Landbou dit duidelik gemaak dat hulle alles in hul vermoë sal doen om te sorg dat indringer plantspesies nie verder verwoesting in die gebied saai nie.

Dit is alombekend dat indringer plante, veral bome, ‘n groot invloed op die watertafel het en indien die uitheemse plantegroei nie beheer word nie, dit ernstige nagevolge vir die omgewing kan hê.

Cornè Claasen van Cape Nature het tydens sy besoek die kommer van die gemeenskap aangehoor en hulle daarvan bewus gemaak dat daar wel sukses verhale in die geveg teen indringer plante is wat ook in Barrydale van toepassing kan wees.

Cornè het egter aanbeveel dat bome nie onwillekeurig verwyder moet word nie aangesien die rehabilitasie van die dorp se rivier banke ‘n tydsame gemeenskapsgedrewe projek is.

“Hierdie projekte is slegs suksesvol as dit deur die gemeenskap gedryf word. Ons moet versigtig wees aangesien ander plante en diere ook van die bestaande bome afhanklik is.”

Ongewenste plantspesies wat verwyder kan word is ook in die rivier uitgewys en Cornè het die gepaste tegnieke met die belangstellendes bespreek.

Tydens die ontmoeting wat by Gillian Parenzee van Nurture Colab se huis in Tinley Straat plaasgevind het, het verskeie inwoners (waarvan party reeds dekades hier woon) hul misnoeë teenoor die plaaslike munisipaliteit se laksheid in die verband uitgespreek.

Barrydalers meen dat daar ‘n uitstekende geleentheid is om die ou Uppington Road (langs die Huisrivier) in ‘n toeriste aantreklikheid te ontwikkel, maar dat die raad hom nie aan hul voorstelle steur nie.

“Dit is tyd dat die stadsraad ons ernstig begin opneem en begin om tot voordeel van die dorp en die omgewing te begin optree,” meen die omgewingsbesite Shane Petzer.

Shane stel sy saak terwyl Cornè sy afstand hou

Petzer en sy kollegas by die Magpie Art Collective, asook die Barrydale Eco Warriors, verrig uitstekende werk om rommel uit die rivier banke te verwyder en hulle is dit eens dat die owerhede ook vir ‘n slag deel van die oplossing moet word.

Ricardo Carelsen van die Wes Kaap se Departement van Landbou het belowe dat hy daarvan werk sal maak om die regte departmente (Swellendam Munisipaliteit ingesluit) na Barrydale sal bring sodat oplossings, asook ‘n uitvoerbare plan, in samewerking met die gemeenskap gevind kan word.

Gillian het intussen bevestig dat sy met ander partye wat graag deel van die oplossing wil word sal gesels om te sien wat gedoen kan word om die natuurskoon te beskerm.

Hierdie is ‘n warmpatat en News62 sal ontwikkelinge noukeurig dophou.

Persone wat betrokke wil raak kan Gillian by 065 895 7067 of Shane by 079 318 4289 skakel.

Sexy bene. Shane het in sy tradisionele Magpie drag lede van die gemeenskap aangespreek.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment