Community News

Barrydale sal jou onthou, Nelio

Nelio van Rooi, ‘n geliefde en bekende inwoner van Barrydale, en veral ‘n toegewyde brandweerman, is op 31 Januarie in die uitvoering van sy pligte oorlede toe hy en sy span ‘n brand in die Lemoenshoek-omgewing bestry het.

Sedertdien is sy naam op almal se lippe. Toe die tragiese nuus die gemeenskap bereik het, was dit asof ‘n donker wolk van hartseer oor die dorp kom hang het.

Ons held. Nelio van Rooi. Foto: Facebook

Die presiese besonderhede rondom die insident is nog nie amptelik bekend nie, maar die ‘hoe’ en die ‘wat’ maak nie regtig saak nie. Wat saakmaak, is dat ‘n jong man, ‘n pa, sy lewe in diens van sy medemense opgeoffer het. 

Hy is ‘n ware held en ons is hartseer dat hy nie meer met ons is nie.

Ten spyte van die hartseer is daar ‘n klein, maar helder lig wat deur die wolke van swaarmoedigheid breek. Die lig van mense wat daadwerklik omgee.

Die ware aard en karakter van ‘n gemeenskap kan gemeet word aan die medemenslikheid en meelewing van die individue daarin. 

In Barrydale se geval was dit ‘n riem onder die hart om te sien hoe gou en onbaatsugtig mense onder hierdie moeilike omstandighede opgetree het.

Binne ‘n paar ure na ons geliefde brandweerman se afsterwe, het die dorp saamgestaan en hul tot diens van sy gesien en die brandbestryders – wat toe reeds meer as ‘n week lank in ‘n velle stryd met die vuur gewikkel was – beskikbaar gestel.

Daar is besluit om kospakkies voor te berei en inwoners kon hul donasies by die Donkey Shed aflewer. Van die kos is daar voorberei, terwyl Louise Pharo ook van die geregte in haar kombuis gekook het.

Volgens Sarah Fitz-Gerald (die eienaar van die Donkey Shed) moes sy op ‘n stadium mense wat sakke groente en ander kruideniersware wou aflewer, begin wegwys.

“Dit was iets besonders om te beleef,” verduidelik Sarah.

Sy het ook in haar privaat-hoedanighed op Facebook ‘n beroep om hulp gedoen en weereens was daar etlike mense wat donasies gemaak het vir die latere aankoop van nog kos.

“Die ondersteuning vir die gesin en ons brandweermanne wat nou nog die vuur bestry, was oorweldigend. Ek kan net vir elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het ‘Dankie’ sê.”

Die warm etes en koeldranke het ‘n groot impak op die brandweermanne se moraal gehad en in samewerking met ‘n bietjie reën wat onlangs geval het, gesorg vir ‘n baie welkome blaaskans en kalmte in die Langeberge.

Skenkings vanuit die gemeenskap word deur Louise en Sarah afgelewer
‘n Koeldrank of twee vir die brandweermanne wat reeds vir meer as ‘n week druk besig is

Intussen begin die realiteit van Nelio se afsterwe stelselmatig insink.

Die gemeenskap is dit eens dat hy ‘n liefdevolle mens was en uit die gebare wat ons reeds gesien het, was mense net so lief vir hom. Hy word beskryf as ‘n man met ‘n sagte geaardheid en ‘n passie om sy medemens te dien.

Nelio is ‘n held en hy sal sonder twyfel so vereer word wanneer die gemeenskap na afloop van sy begrafnis (die datum en tye moet nog bevestig word) in Tinley Straat ‘n erewag vir hom hou.

Rus sag Nelio, ons sal jou nooit vergeet nie.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment