Community Featured Sport

Barrydale Fight Night laat gemeenskap saamstaan

Written by Mickey Mentz

Vir Sersant Conroy Williams was daar twee groot doelwitte agter die beplanning van Barrydale Fight Night:

Eerstens was dit ‘n fondsinsameling vir die Panic Room Boxing Club. Meer fondse ingesamel beteken dat meer van sy boksers aan volgende jaar se kampioenskappe kan deelneem.

Dan het hy ook gevoel dat dit nodig is vir die gemeenskap om vir ‘n slag saam te staan en hulle verskille eenkant toe te skuif.

Conroy het die afgelope Saterdagaand – danksy ondersteuning van Upper Barrydale (Smitsville) en die hoofdorp – beide die doelwitte bereik.

“Ons almal is deur die pandemie onderdruk. Baie mense kon nie hulle families sien nie. Dit was ‘n moeilike jaar in alle opsigte en ons weet dat angs en depressie en alle ander sielkundige effekte nog lank met ons gaan wees. Dus was een van die groot doelwitte om die dorp om bietjie bymekaar te laat kom, om net vir ‘n rukkie weer mens te kan wees.”

Vir die vegters van Panic Room Boxing Club was die blootstelling en die opleiding wat hulle die afgelope jaar ontvang het, iets besonders.

Nie net het die voormalige kampioen Theo Modise hulle kom touwys maak nie, maar hulle kon ook hulle behendigheid en vordering voor die dorp ten toon stel.

Dan was daar ook die lede van die gemeenskap wat geensins geskroom het om Conroy se inisiatief te ondersteun nie. Verskeie mense wat nog nooit voorheen geboks het nie, het vir maande saam met hom en sy span geoefen. Hierdie vegters het uiteindelik van die groot trekpleisters vir die aand se verrigtinge geword.

Sal die dorp ooit kan vergeet hoe Kyle Berry en Shane Petzer in die bokskryt gedans het?

Bloedbroers Shane Petzer en Kyle Berry het vir groot vermaak gesorg. Foto Herbert Dark

Conroy se twee hoefdoelwitte het natuurlik ook sy oorhoofse doel om die jeug te motiveer en te inspireer aangevul.

Agtergrond

Conroy was nog jonk toe sy pa by hulle huis op Ceres weg is. Sy oupa het die knie gebuig voor ‘n drankprobleem en was by tye ook abusive. Op ‘n stadium het Conroy en sy ma sonder heenkome gesit.

Die lewe het hom gedruk en hy moes reeds van kleins af baklei om kop bo water te hou.

“Ons het nie ‘n huis gehad nie en ook nie ‘n plek om heen te gaan nie. Ek onthou hoe ek my ma gevra het “Mammie, hoekom doen die Here dit aan ons? Hoekom moet ons so swaar kry?”

“Ek was al aan daardie kant van oophand staan, aan die receiving kant en mense het my gehelp, vir my ‘n klomp goed gegee.

“Ek onthou my eerste paar tekkies was twee sizes te groot vir my, maar ek was opgewonde daaroor. Ek was dankbaar vir die hulp en daarom voel ek dat dit nou my plig is om ander te help”

Hy meen dat hy tevrede sal wees as hy ‘n bydrae kan maak om te sorg dat net een of twee seuns in sy klas nie deur dieselfde donkerte hoef te gaan nie.

Conroy reken daar is genoeg negatiewe invloede in vandag se samelewing. Hy probeer dus om ‘n voorbeeld vir die jong boksers te wees en sy hoop is dat hulle ook die waardes wat in die bokskryt geleer word, in hul lewens kan toepas.

“Ek dink dikwels aan die dae waar ek en my ma staan en tande borsel het. Die huis se water was reeds afgesny, maar die kraan het so bietjie gedrup.

“Ons het ‘n uur voor die tyd reeds die water begin opvang sodat ons kan borsel en ek onthou dat dit op ‘n stadium so sleg gegaan dat ons ons tande met soutwater en sunlight seep geborsel het.

“Daardie was my laagste.”

Conroy vertel hoe hy vir sy ma gevra het om die volgende keer as daar dalk geld is, eerder tandapaste as margarien te koop.

“Ek het gevoel ons kan eerder droë brood eet as wat ons nie kan tande borsel nie.

Maar te midde van die swaarkry, het Conroy steeds bly hoop en bid vir beter dae. Hy het homself oortuig dat “more nog ‘n dag is” en dat hy dit gaan maak.

Dit is die boodskap wat hy aan elkeen van sy vegters wil oordra.

“Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, dit maak nie saak wat jy al experience het nie, dit maak jou net sterker en jy gaan een of ander tyd iemand anders kan help. Moet nooit opgee nie.”

Conroy vertel dat hy ook sy inspirasie put uit dit wat in en om Barrydale plaasvind. Of dit nou oom Peter Takelo van Net vir Pret is wat mense inspireer om ‘n beter (meer positiewe) weergawe van hulself te wees, of Reuben Hart se span Eco Warriors wat die dorp skoon hou – daar is baie mense hier wat vir hul medemens omgee.

Na afloop van hierdie suksesvolle aand waartydens die gemeenskap van Barrydale bankvas agter Conroy gestaan het, kan News62 bevestig dat planne vir die volgende Fight Night reeds in die pyplyn is.

Juwandre Conradie en Esrich Plaatjies in aksie tydens Barrydale Fight Nigh. Foto: Herbert Dark

Bedankings

Na afloop van Fight Night het Conroy die volgende mense/instansies vir hul hulp bedank:

– Firb Sounds van Smitsville

– Conroy se voormalige afrigters Faffie Jordaan, Kobus van Schalkwyk, Craig Steyn, Philip Goodyear en Theo Modise.

– News62 en al die fotograwe wat die aand bygewoon het

– Al die vegters wat deelgeneem het

– Dung Beetle Bar and Backpackers

– Mr Klapthor

– Belhar Wildsplaas

– Route 62 Liquors

– Anna Smit vir die Elizabeth Arden gift packs

– Gert Mills vir die borg van die trofeë

– Die gemeenskap vir hand bysit en motivering op die aand

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella en Obi.

Leave a Comment