Community Featured Food

Gedenktuin vir Nelio uitgelê

Written by Mickey Mentz

Die ergste seer is nog lank nie verby nie. Dit voel vir meeste Barrydalers asof dit net gister was toe hulle van hul geliefde vriend, vader, brandweerman en alom geliefde padkamp inwoner moes afskeid neem.

Nelio van Rooi is ‘n held wat op 31 Januarie tragies sy lewe verloor het terwyl hy sy gemeenskap teen ‘n veldbrand beskerm het.

Ter nagedagenis van die dapper jong man het inwoners besluit om ‘n groente tuin langs sy huis op te rig sodat hy selfs na sy dood sy passie om ander te help kan uitleef.

“Ons is nog baie seer. Die pyn is nog al die tyd daar, maar ons ontvang so baie ondersteuning van ons bure en die gemeenskap. Almal help waar hulle kan en ons is nie vir ‘n oomblik alleen nie,” vertel Candice, Nelio se liefde van sy lewe.

Candice het na die groot tragedie met haar buurvrou Doris Nadler oor die rou proses gesels en hulle was dit eens dat ‘n groentetuin iets is waarby baie mense sal kan baat.

Doris is heel toevallig ‘n permakultuur kundige wat oor meer as 20 jaar ervaring in die groei van organiese voedsel beskik. Sy en haar mede padkamp inwoners het behoorlik skouer aan die wiel gesit om die fondasie van die tuin uit te lê en hulle beoog om in herfs die grond te kan benut.

“Ons mis almal Nelio se vriendelike gesig hier. Ons mis ook om sy brandweerwa by die Hand Weavers te sien staan en met hierdie tuin kan ons ‘n klein stukkie van Nelio grond gebruik om mense ‘n paar vaardighede te leer.”

Doris vertel hoe talle inwoners reeds die oprigting van hierdie groentetuin ondersteun het.

Van Clarence Jonas wat met water toevoer help tot Carol Morris wat stompe vir die heining geskenk het asook Ella en Ian Powell en die Albertyn gesin wat gereeld perdemis aflaai – daar nooit ‘n tekort aan goedhartige mense nie.

Swellendam Munisipaliteit het ook nie gehuiwer om betrokke te raak nie. Munisipale werkers het ingestem om die reënwater vore oop oop te maak en van die grond wat in hierdie vore was, word in die tuin benut.

“Hierdie is baie goeie grond en ons is dankbaar dat dit nou tot voordeel van die gemeenskap aangewend kan word,” meen Doris.

Candice sien ook uit dat hierdie tuin, wat buite haar huis gevestig word, ‘n voorbeeld vir ander inwoners kan wees. Sy sien nou presies wat met samewerking vermag kan word.

Op hierdie stadium het die gedenktuin span nie veel hulp nodig nie, maar hulle wil graag ‘n geharde vrugteboom of twee aanskaf.

Candice en Doris vra ook of daar enige iemand is wat dalk ‘n paar Protea plante kan skenk.

“Ons weet dat die Proteas oor ses jaar weer in hierdie berge waar Nelio sy lewe verloor het sal blom. Oor ses jaar gaan sy seuntjie ook skool toe en daarom is die Protea vir ons so simbolies.”

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment