Community Food Lifestyle

Calitzdorp is waar jy jou naam wil ‘verloor’

Written by Mickey Mentz

Elke liewe mens, van koster tot kloosterkoek, sal kan bevestig dat hulle op een of ander stadium in hulle bestaan hulle naam (aspris of onwillkeurig) effe verloor het. 

Of dit nou was weens ‘n oorgesellige partytjie (onder die huidige omstandighede effe moeiliker as van tevore) of dalk net ‘n stoute boodskap wat vir pappa bedoel was, maar toe onder die neuse van die hokkie-mammas beland het – ons was almal al daar.

In Calitzdorp is dit egter ‘n goeie ding en by Zamani Grill word mense aangehits om hul name te verloor.

Volgens Gielie Basson, mede eienaar wat daarmee spog dat hy en sy vrou, Annalize, die kleinste kroegie op die R62 besit, is elke warmbloedige Suid-Afrikaner welkom om by hulle instansie van sy of haar naam afstand te doen.

Gelukkig is dit net tydelik, want alle name wat by Zamani Grill “verloor” word, word later deur Gielie gevind.

Sien, hy maak dan ‘n draad-replika van die betrokke naam en gee dit ‘n ere-plek teen hul “Lost and Found” muur. Jy kies self waar jy jou naam teen die muur wil verloor.

So ‘n naam-weggooi sessie beloop R250.00 per persoon.

‘n Huis vir verlore name

Die doel van die oefening is om plaaslike liefdadigheidsorganisasies te ondersteun en Gielie en Annalize is baie trots op die feit dat hulle reeds sowat R7850.00 vir Vygieshof Ouetehuis ingesamel het.

Die fondsinsameling vir ‘n spesifieke begunstigde duur vir ‘n jaar, waarna hulle die volgende organisasie wat voordeel uit die unieke projek kan trek, sal identifiseer.

Vir Gielie, wat self elke naam uit draad maak en behandel voor hy dit opsit, is dit ‘n geval van twee vlieë met een klap:

“Ons almal gooi mos so elke nou en dan in goeie gees naam weg, so ons het besluit om ‘n tong-in-die-kies muur te maak vir diegene wat op ‘n ander wyse liefdadigheidsorganisasies wil ondersteun.”

“Ons het besluit ons wil iets doen wat ‘n bietjie meer uniek is; iets wat ‘n bietjie meer karakter aan die plek bring en ons weet dat dit met tyd baie mooi gaan lyk,”

“Ons is almal steeds positief oor die toekoms, ons kort net toeriste-voete, ” verduidelik Gielie, terwyl hy in dieselfde asem ook die plaaslike gastehuise  bedank vir die verwysings wat na hulle kant toe kom. 

Zamani Grill is huidiglik tydelik gesluit totdat die regering se “lockdown regulasies” meer besigheidsvriendelik is. Gielie en Annalize stel hul gereelde klante gerus dat hulle beslis weer gaan oopmaak en dat daar weer elke tweede Vrydagaand musiek aangebied sal word en dat die “Kleinste Kroegie op Route 62” se drank steeds deeglik koud sal wees wanneer dinge eendag weer normaliseer.

Intussen begin Gielie verveeld raak en soek hy werk vir sy hande. Dus kan enigeen wat belangstel in ‘n ere-plek op die “Lost and Found-wall” hom gerus kontak by 083 881 9334 of stuur vir hom ‘n boodskap op Facebook.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment