Community Lifestyle News

Khoisan harte glimlag nou dat Koos Sas sag kan rus

Written by Mickey Mentz

Sowat ‘n eeu nadat die legendariese inboorling van Montagu Koos Sas buite Springbok doodgeskiet is, is sy gebeendere tydens ‘n emosie belaaide geleentheid aan die Hassekwa Khoisan stam oorhandig.

Die seremoniële oorhandiging van Sas se skedel is deur die Wes-Kaap se minister vir Kultuursake en Sport, Anroux Marais, het op 9 Maart by die Montagu Museum plaasgevind.

Stamhoof Reginald Boesak het dit namens die Khoisan ontvang en daarop klem gelê dat hierdie gebaar deur die regering daadwerklik verskil in sy volk se gemoed maak.

“Hierdie oorhandiging het baie pyn verlig en daarvoor is ons dankbaar,” het Boesak gesê.

Hy meen dat die Khoisan sedert die eerste Europeërs aan die Kaap geland het slegs verneder, bedrieg en onderdruk is en dat gebare soos dit wat in Montagu gebeur het, uiters noodsaaklik is om die menslikheid wat van die Khoisan ontneem is, te herstel.

“Ons is ‘n gebroke volk. Ons is grusaam verskeur op die wreedste wyse. Ek gaan weer terug na dit wat Madiba vir ons hier 1996 vertel het… dit is belangrik dat ons nie van die verlede vergeet nie, maar ons moet ons ook nie net op die verlede toespits nie,” het Stamhoof Boesak vertel.

Die geliefde Karoo musikant David Kramer het tydens die geleentheid opgetree en vertel hoe hy in 1981, tydens ‘n museum fondsinsameling, Koos Sas se skedel in ‘n glaskas gesien het en hoe dit hom inspireer het om die lied ‘Die Ballade van Koos Sas’ te skryf wat in 1983 vrygestel is.

Kramer het in 2001 ook ‘n musiekteaterstuk oor die gebeurtenis op die planke gesit en dit was vir hom ‘n riem onder die hart om weer ‘n bydrae tot die verewiging van die afgestorwe Khoisan man by te kon dra.

Volgens Samuel du Plessis, voorsitter van die Montagu Museum Raad, was hierdie gebaar baie belangrik om samehangendheid op sosiale vlak te bevorder. Du Plessis, nou in sy vierde jaar as hoof van die museum raad, meen dat dit uiters belangrik is dat gemeenskappe lesse oor hul geskiedenis leer.

“Ons het vandag die geleentheid om ons diversiteit te vier en om mekaar te leer ken vir wie en wat ons is,” verduidelik Du Plessis.

Koos Sas was ‘n berugte veedief in die Montagu distrik en het op verskeie geleenthede daarin geslaag om te ontsnap wanneer die owerhede hom betrap het. Hy is in 1917 weens die moord van Bothatjie Botha in hegtenis geneem en het die polisie ontduik toe die saak na die hoë hof in Worcester oorgeplaas is.

Hy was daarna vyf jaar lank voortvlugtig en is deur die staat as ‘n sogenaamde “voëlvrye” verklaar.

Sas is op 8 Februarie, na ‘n soektog wat twee dae geneem het, deur konstabel Jurie Dreyer, op ‘n plaas buite Springbok doodgeskiet.

Sy skedel en die vuurwapen waarmee hy geskiet is, is in 1975 in die Montagu Museum uitgestal waar dit vir 20-jaar ‘n prominente figuur was.

Koos Sas se amptelike begrafnis sal op 18 April plaasvind.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment