Ladismith bekendes Chrissie Watt en Desmond Sauer span kragte saam om broodnodige fondse vir die Karoo Animal Protection Society (KAPS) in te samel en bied op Sondag 15 November ‘n middagete by die Waterfall Eco Farmstay by Seweweekspoort aan.
Chrissie van Coco Demure Food is alombekend vir haar uitstekende, gesonde disse en het besluit om op haar manier ‘n verskil in die lewens van diere in die omgewing te maak.
Desmond is net so versot op diere en die Waterfall Eco Farmstay is uiteraard ‘n troeteldier-vriendelike onderneming.
“As ‘n diereliefhebber wat mishandling sterk teëstaan, het ek maar nog altyd mishandelde honde aangeneem. Ek het tans ses honde wat ek uit organisasies in Odin, en Dassenberg in Atlantis aangeneem het,” vertel Desmond.
“Ek is dus terdeë bewus van die onbaatsugtige werk wat organisasies soos KAPS met beperkte fondse verrig om mishandelde diere in Kannaland ‘n beter lewe te gee.”

“Met my kennis van ander nie-winsgewende organisasies weet ek dat die meeste sukkel, maar in vergelyking met ander, suig KAPS beslis aan die agterste speen.”
“Hulle het van my honde al met tonne liefde en kundigheid gedokter en hierdie is die minste wat ek kan doen.”
Chrissie meen sy ondersteun KAPS ook hoe en waarookal sy kan en sien daarna uit om Sondag met haar passie vir kos ‘n bydrae te kan lewer
“Ek het nou die dag ‘n wonderlike quote van Charles Bukowski raakgelees,” vertel Chrissie.
“You begin saving the world by saving one person at a time; all else is grandiose romanticism or politics.”
Charles Bukowski
“Ons is so bevoorreg om in die Klein Karoo te kan bly. Die landskap, die mense, ons plattelandse manier van doen en dink, die vryheid om te kan asemhaal. Om naby aan die natuur te leef.”
“Daar is egter ook soveel armoede en sosiale nood en dit is iets waarvan ek daagliks bewus is. Hoe om te help, hoe om ‘n verskil te maak? Soms oorweldig dit my en dan wil ek net onder ‘n bos inkruip!”

“Bukowski stel dit egter so mooi: doen ietsie kleins, help een iemand op ‘n slag. Dis hoe ons die wêreld ‘n beter plek maak.”
“Ek kies om vir KAPS te help waar ek kan. Hulle doen ongelooflike werk, met passie en met deursettingsvermoë, onder moeilike omstandighede en met min hulp tot hul beskikking.”
“My klein iets wat ek kan doen, is om lekker kos te maak. So, kom eet saam met ons, ervaar iets besonders, en help om ‘n verskil te maak in ‘n wêreld wat dit so bitter nodig het!”
Daar is slegs ‘n beperkte aantal kaartjies teen R275 per persoon beskikbaar.
Die volle prys van die ete word aan KAPS geskenk.





