Lemoenshoek Primêr se voedingskema is as die derde beste van sy soort in die Wes-Kaap aangewys en danksy hierdie besondere prestasie het die skool R10 000 ontvang waarmee die bestaande kombuis opgeknap gaan word.
Sowat 80 Lemoenshoek leerders baat by hierdie inisiatief wat deur die Nasionale Skole Voeding Program ondersteun word.
Lemoenshoek het ook die Wes-Kaap Onderwys Departement op nasionale vlak verteenwoordig waar verskillende voedingskemas met mekaar vergelyk is.
Aldus Lemoenshoek waarnemende hoof Elmé van de Vyver.
“Ons is nou wel ‘n klein landelike skooltjie, maar hier het ons bewys dat ons naam kan maak en met groter skole kan kompeteer.”
Van de Vyver is uiteraard baie trots op die prestasie wat haar skool behaal het en sy het haar lof vir teenoor bobaas kok Christiline Bernadus, wie letterlik die potte aan die kook hou, uitgespreek.

Die belangrikheid van hierdie voedingskema wat by die klein skooltjie buite Barrydale ingestel is, kan ook nie onderskat word nie.
Die realiteit is dat die maaltye wat hier voorgesit word dikwels die mees voedsame etes is wat sekere van die minder bevooregte plaaskinders ontvang.
Hierdie etes sorg ook dat die jongspan beter in die klaskamer konsentreer en uiteindelik tot hul liggame tot hul volle potensiaal kan ontwikkel.
Van de Vyver het verduidelik dat die fondse wat die skool ontvang het absoluut brood nodig is aangesien daar selfde fondse in die skool se klein begroting is wat op verbeterings spandeer kan word nie.
Geld geensins in oorvloed
“Die kombuis is ‘n baie ou gebou en ons het nog nooit die fondse gehad om verbeterings aan te bring nie. Ons wil graag verf en teelwerk doen en hierdie is die ideale geleentheid vir ons om dit te kan doen.
“Ons is baie dankbaar vir hierdie prysgeld en ek dit is ‘n besondere gevoel om te weet dat ons so ‘n verskil in die lewens van hierdie kinders maak.”
Wat die toekoms aanbetref reken Van der Vyver dat daar geen rede is waarom Lemoenshoek Primêr se voedingskema nie binnekort as die beste in die provinsie aangewys kan word nie.
Sy is vuur en vlam om te sorg dat hierdie doelwit bereik word en nooi lede van die omligende gemeenskap uit om die skool met raad en daad te ondersteun waar hulle kan.
