Deur Nataniël Pokwas
Op 31 Augustus 2024 het Barrydale Netbal Klub vir Super Platinum van Swellendam op tuis bodem verwelkom.
Die Barrydalers, vasberaad om die dorp te oortuig dat hulle ‘n sterk klub is, het net net te kort opgeëindig, met die telling 24 – 16 in die guns van die besoekers.
Die opbou
Dit is duidelik dat die gemeenskap nog nie bewus is van die klub van Barrydale nie. Dit was maar ‘n klein opkoms. Net die familielede van dié wat speel.
Maar hierdie lede is bankvas agter hulle spelers en vereis net die beste. Die wedstryd het op BFO netbal baan plaasgevind. Die Barrydale span se mooi blou het mooi gepas met die berg agtergrond en toe daag die Platinums op met hul groen sweetpakke, reg om as oorwinnaars hier weg te stap.

Die wedstryd
Om aan te sluit by die titel van die berig, die Swellendam span het vroeg van hul lengte gebruik gemaak. Die eerste drie kwarte het net uit langballe van die swellendam span bestaan.
Die Barrydale span, wat natuurlik kleiner as dié van Swellendam is, moes taamlik rondstaan. Waar hulle meer as 3 tot 4 passe moes gee, het die Platinums slegs twee passe nodig gehad om in die doelgebied van die Barrydale span te kom. Maar dit het nie die gees gebreuk van die span in blou nie.
Met hulle vinnige bewegings kon hulle punte op die telling bord sit. Met die tweede helfte het die Barrydale span hul doele begin insamel, maar die lengte van die opponente was aan die einde van die wedstryd te veel vir die span van Barrydale. Dit was steeds ‘n wedstryd wat die fiksheid van die Barrydalers getoets het en die Barrydale span het bly veg tot die met die eindfluit.
Ondersteuning
Die Barrydale Netbal Klub, wat sedert 2022 bestaan, is tans nog hard besig om hul stempel in die dorp neer te plak. Hulle benodig nog steeds baie ondersteuning van die gemeenskap.
Met spelers wat vasbeslote is om die klub na hoogtes te neem, is dit soms net paar finansiële uitdagings wat swaar op die groep weeg. Die speel area is nie gratis nie en die hekgelde dek net ‘n gedeelte daarvan.

Maar die Klub moes maar van die skoolgrond gebruik maak asgevolg van die munisipale veld nie aan die standaard voldoen om wedstryde te akkomodeer nie. Dit veld hou ook ‘n beseringsrisiko vir die speler in.
Sport het ‘n groot impak op die gemeenskap en hier is weer ‘n kans vir die wat liefhebbers is van Netbal, om hul liefde uit te oefen. Die toekoms van hierdie span lyk belowend maar hulle gaan die ondersteuning van die gemeenskap nodig het.