Featured News Sport

Eagles Breek Derby-droogte

Written by Mickey Mentz

Barrydale-derby herroep herinneringe aan Engeland se 2007 Rugbywêreldbeker-eindstryd nederlaag.

Die Barrydale Flying Eagles het op 27 Junie uiteindelik hul derby-droogte gebreek deur ‘n 26-22-oorwinning oor Stryders in te palm. Soos dit nou maar met wedstryde tussen die twee plaaslike spanne gaan, was dit weer ‘n ware riller.

Uit die 8 kragmetings tussen die spanne het die Eagles nou een wen agter die blad soos hul afrigter Malcome Jonas verduidelik het, sien sy span nou uit na die sewe vet jare wat gaan volg.

“Die sewe maer jare is nou verby.”

Astron

In of Uit?

Dan was daar natuurlik die oomblik wat nog lank om die braaivleisvure bespreek gaan word.

Die Eagles het gedurende die tweede helfte met ‘n enkele punt (23-22) voorgeloop en was byna hul voorsprong kwyt toe vleuel Fernando Hartley in die hoek gaan druk het.

Die lynregter het egter beslis dat Hartley uitgetrap het. Die omstrede oomblik is deur plaaslike fotograaf Graham Abbott vasgevang en, op die oog af, lyk dit asof Stryders-ondersteuners rede het om ongelukkig met die beslissing te wees.

News62 was egter op die veld en kan getuig dat die beeldmateriaal nie noodwendig die hele verhaal vertel nie. Vanuit ons posisie langs dieselfde kantlyn was daar, sonder enige twyfel, ‘n voet buite die speelveld.

Die ouer generasie sal onthou hoe Engeland se vleuel, Mark Cueto, tydens die 2007 Rugbywêreldbeker-eindstryd seker was dat hy in die hoek gedruk het. Die skeidsregters het egter anders besluit en die William Webb Ellis-trofee het uiteindelik saam met die Springbokke Suid-Afrika toe gereis….

Stryders Staan Steeds Sterk

Gelukkig weet ons die trotse Trossies is nie ‘n klomp suur druiwe nie. Ricarlo Herdien en sy span verstaan ook waarom Stryders RVK destyds gestig is. Die klub verteenwoordig ‘n groep rugbyliefhebbers wat nie langer wou toekyk hoe politiek die sport belemmer nie.

Wat dié wedstryd betref, behoort die Stryders egter ook ‘n bietjie introspeksie te doen oor sekere fasette van hul spel wat nie op standaard was nie. Hul lynstane was uiters swak. Waar hulle die skrums gedurende die eerste helfte oorheers het, het hulle in die tweede helfte gesukkel om die Eagles-pak in bedwang te hou.

Dit was asof Eagles stut Michael Vaaltuin besluit het om sy tenk eers teen die einde leeg te maak en dan was Herchelle Swart ook vuur en vlam in die vaste-los.

Die realiteit is dat Stryders nie ‘n enkele punt in die tweede helfte aangeteken het nie. Hulle het ‘n 22-3-voorsprong geniet en het, soos die Eagles in talle vorige derbies, dalk net ‘n bietjie te gemaklik geraak. Hulle kon hierdie voorsprong hou terwyl Erin Bron ‘n geelkaart gehad het.

Was dit nie vir puik verdediging deur die Stryders nie, kon die Eagles maklik nog twee of drie keer agter die doellyn gaan kuier het.

Om boonop ‘n oënskynlik maklike strafskop mis te skop, het ook nie die Stryders se saak gehelp nie.

Vir die Eagles was Iben Ferguson se veelsydige spel ‘n groot aanwins, terwyl die ervaring van Jay Cee Phillips goed te pas gekom het. Die speler wat egter ‘n briljante wedstryd beleef het, was Dian Pieterse. Spoed, visie en vernuf.

Lucraine Jonas het beslis die impak vanaf die bank gelewer wat sy span nodig gehad het en in Jaylin Swart (Bolo) beskik die oudste span in die dorp oor ‘n jong speler wat nog vir baie jare met trots die rooibont trui oor sy kop sal trek.

Die flank Napoleon Deysel is as die speler van die wedstryd aangewys.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment