Community News

Playground Skatepark: Een van die enigste aktiwiteite vir Smitsville jeug

Written by Mickey Mentz

Barrydale is nou maar net eenvoudig die stiefkind wanneer dit by hulp van die regering kom. Die dorpie suig behoorlik aan die agterspeen wanneer fondse vir jeug ontwikkeling toegeken word en die gevolg is dat daar so te sê niks vir jongmense is om hier te doen nie.

Gelukkig het skaatsplank entusias Colin Walsh hierdie probleem met die stigting van die Playground Skatepark begin aanspreek.

Colin het bietjie meer as ‘n jaar gelede ‘n stuk grond in Smitsville (waar daar voorheen netbalbane was) vir hierdie projek identifiseer en soos die Engelse sê ‘he put his money where his mouth is’.

Colin op sy pos in Smitsville, Barrydale

Danksy die aanvangskapitaal wat hy eie sy eie sak gehaal het kon hierdie projek van stapel gestuur word en is daar vandag so baie belangstelling dat hy deesdae sukkel om die jong klomp van die skaatsplanke af te hou.

Die projek is reeds uitstekend deur plaaslike besighede ondersteun en nou dat die lewe begin normaliseer, hoop Colin om verder te bou en breek.

“Die ondersteuning wat ek vanuit die gemeenskap ontvang het is amazing. Talle besighede het bygedra en ons kon tot voor lockdown ‘n klomp werk gedoen kry.”

Colin is net so in sy noppies met die vrywilligers wat nooit skroom om hom te help sement meng of pikslaan nie.

“Ek moet net op die dorp se Facebook blad noem dat ons weer gaan bou en ‘n string mense daag op. Dit is hoekom ek myself in Barrydale kom vestig het.”

As voormalige toergits wat die Afrika kontinent plat gereis het, het Colin besluit om ‘n aanlynbesigheid in Barrydale te bedryf en danksy die uitstekende spoed van die karoodorp se internet word die plekkie by die dag meer populêr onder stadsverlaters.

Stuk vir stuk word die skatepark ‘n realiteit

Die gewildheid van skateboarding is ook drasties aan die toeneem. Soveel so dat Colin reeds planne om ‘n skateshop op te rig, in werking het.

Sekere globale pandemies het egter sy planne ietwat op ys geplaas, maar dit blyk nie of dit die gees van die Smitsville Skaters sal breek nie.

Colin kondig nie eens  af wanneer hy die skatepark gaan besoek nie. Hy probeer om elke naweek daar ‘n draai te maak en as die kinders sy voertuig gewaar is dit asof daar ‘n sein uitgestuur word.

“Ek het so ses skateboards en ‘n skopfiets of twee, maar dit sal nooit genoeg vir hierdie spanne wees nie. Daar is regtig niks anders vir die jeug om te doen nie so dit behoort eintlik nie so verbasend te wees dat dwelm misbruik ‘n problem is nie.”

News62 het nadese die gesprek ondersoek ingestel en dit is bevestig dat sekere seuns wat skaars sewe-jaar oud is reeds dagga rook. Daar is talle tieners wat met tik verslawing sukkel en hoewel dit wil voorkom of die behuisingsvraagstuk aandag geniet, word daar bitter min vir die jeug van Barrydale gedoen.

Persone of besighede wat daarin belangstel om Colin te help met verdere ontwikkeling van die Playground Skatepark kan hom by 078 199 2686 skakel.

Lees ook:

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment