Matthew Janniker (17) en Giovanni Hartnick (16) van Barrydale Rolbalklub het danksy puik vertonings hul plek by die Boland Junior Rolbal liga finale bevestig.
Beide die leerders van Hoërskool Barrydale het met hul onderskeie oorwinnings op tuisbodem gesorg dat hulle die Overberg Distrik met trots by die Boland Junior Enkelspel finale sal verteenwoordig.
Hierdie belangrike uitspeel wedstryde vind op 28 Maart in Worcester plaas en volgens hul afrigter, Renaldo Claassen, beskik beide spelers oor die vermoë om ook op nasionale vlak uit te blink.
Hy reken hulle kan op enige stadium, enige speler klop.
“Hulle is brilliant in dit wat hulle doen. Hulle leef vir hierdie sport en hierdie sport het al vir hulle baie deur oopgemaak.”
“Om hierdie jong manne af te rig is ‘n groot plesier. Ek geniet elke oomblik en ons kan net hoop dat meer jongmense by die sport en by die klub betrokke raak”
Barrydale Rolbalklub organiseerder Gert Mills het aan News62 bevestig dat daar talle jong spelers in die dorp is wat besluit het om eerder aan die sport deel te neem as om kattekwaad aan te vang.
“Hier is baie talent op Barrydale en ons sien altyd daarna uit om nuwe spelers, jonk en oud, aan die sport bekend te stel.”
Vir meer inligting oor Barrydale ontspanningsklub kan Chris Naude by 082 772 1487 geskakel word.