Giovanni Hartnick het op 28 Maart sy skool, dorp en rolbalklub met trots by die Boland Junior Enkelspel Rolbal kampioenskappe in Worcester verteenwoordig waar hy uiteindelik as kampioen van die veld gestap het.
Dit was voorwaar ‘n besondere prestasie vir die leerder van Hoërskool Barrydale wat in 2017 (toe hy nog op laerskool was) as deel van die Barrydale Rolbalklub Jeug Ontwikkeling Inisiatief sy liefde vir die sport ontdek het.
“Dit is ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Om die junior singles te wen was nog altyd een van my doelwitte wat ek wou bereik het,” vertel Giovanni.
“Toe ek die laaste bal klaar gerol het, het ek dadelik na bo gekyk en dankie gesê vir ons Hemelse Vader en ek moes net my beste probeer om die trane terug te hou.”
Nadat Giovanni sy natuurlike aanvoeling vir die sport besef het, is hy in 2018 in die Boland Onder-15 span opgeneem waar hy tot verlede jaar nog uitstekend gevaar het.
Hy was ook in 2018 een van die jongste spelers in die klub se geskiedenis wat ‘n seksie in die Boland Mans Beginners afdeling te Swellendam gewen het. Hy het daardie jaar naelskraap in die finaal in Hermanus teen ‘n teenstander wat 40 jaar ouer as hy was, verloor.
In 2019 het hy en sy Barrydale spanmaat Matthew Janniker, die Boland Pare Kampioenskappe verower en beide die jong manne het sedertdien Barrydale Rolbalklub in die Premier Liga met vlieënde vaandels verteenwoordig.
Giovanni het ook sy klub by die gesogde Knysna Oesterfees Toernooi in 2018 en 2019 verteenwoordig waar hy die oog van Suid-Afrikaanse kaptein Billy Radloff gevang het.
Vir sy afrigter Renaldo Claassen, was Giovanni se prestasie ‘n riem onder die hart aangesien die speler soveel jongmense in die gemeenskap inspireer om ook die sport op te neem.
Renaldo meen dat Giovanni net ‘n bietjie motivering nodig gehad het om sy droom ‘n werklikheid te maak en dat die speler hom uitstekend van sy taak gekwyt het.
“Sondag se kompetisie het oos ‘n Everest voor Giovanni gelê want volgens hom was dit die moeilikste seksie om in deel te neem,” vertel Renaldo.
“As mentor/afrigter glo ek dat my kalmte baie handig te pas kom wanneer my spelers aan toernooie deelneem. Dit stel hulle in staat om beter mee te ding en hulself te wees.”
Ons wil dan graag die Barrydale Ontspanningsklub se lede vir hul ongelooflike ondersteuning bedank. Ons weet Barrydale het bankvas agter ons man gestaan.”
Giovanni het op sy beurt sy prestasie aan sy gesin opgedra.
“Ek will net dankie se vir my pa Gustav Phillips, my ma Leoni Hartnick asook my oupa en my antie Willem Hartnick en Marcy Baker. Julle is tops. Die gemeenskap van Barrydale het my net so goed ondersteun en laastens kan ek nie van my afrigter Renaldo Claasen vergeet nie.
“Dit is hy wat my altyd bygestaan en aangemoedig het, dit het baie vir my beteken.”