Die Karoo Art Hotel se nuwe Roorkhee Koffiekroeg en Bakkery het verlede week sy deure vir die gemeenskap oopgemaak en daar word reeds van 07:30 soggens van die heerlikste bagels, brode en koffie bedien.

Hierdie opwindende toevoeging tot die hotel gaan gepaard met ‘n koffie en ‘n gewone bagel promosie teen R25 wat tot 10:00 elke oggend geldig is.
Dan is daar ook die meer formele bagelspyskaart met verskeie opwindende opsies om van te kies en keur.
Vasbyt vir ontbyt
“Wanneer ons amptelik op 5 Maart die hotel open sal ons ook tradisionele ontbyt en ander opwindende geregte soggens bedien,” verduidelik bestuurder Zak Jansen.
Die koffiekroeg en bakkery sal elke dag, behalwe op Dinsdae, oop wees vir die publiek.
Rick nooi Barrydalers uit na Bagel Bonanza
Volgens eienaar Rick Melvill kan inwoners hul ook voorberei vir ‘n opwindende Bagel promosiedag (of Shoot-out ) wat op 29 Januarie by die hotel plaasvind.
Rick glo dat Barrydale sy eie bagel moet voorsit wat mense van heinde en verre sal lok. Hy meen dat die Barrydale Bagel ‘n treffer onder toeriste sal wees, maar hy voel ook dat die besluit oor watter tiepe bagel dit gaan wees, die gemeenskap se goedkeuring moet hê.
“Ons nooi graag die gemeenskap om saam met ons hierdie vraagstuk op te los,” sê Rick.
“Gaan ons bagel op die resep van die New York bagel of die Montreal Bagel gebaseer wees? Of gaan ons ‘n nuwe rigting inslaan.”

Katrina se kombuis gons behoorlik
Intussen is die hotel se hoofbakker Katrina, baie opgewonde om alde hande wenke wat sy by meester bakker Jeremy Barty geleer het, in haar kombuis toe te pas.
Haar suurdeegbrode is uit die boonste rakke en soos talle inwoners wat verlede week se verrigtinge in die bakkery deelgeneem het reed weet, is daar verskeie watertand happies beskikbaar.





